Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig president Cyril Ramaphosa het op binnelandse kwessies gefokus tydens sy vraesessie in die Parlement. Die koerant skryf dit is op die vooraand van ‘n allerbelangrike Midde-Oosterse krisisdebat wat geskeduleer is.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die Iran-oorlog skud Suid-Afrika. Toenemende aanvalle tussen Iran, Israel en die VSA stoot globale oliemarkte hoër, met moontlike gevolge vir Suid-Afrika se brandstofpryse, inflasie en rentekoerse.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die geskorste nasionale hoof van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, generaal-majoor Richard Shibiri, het erken hy het vir die Madlanga-kommissie gejok. Hy het erken dat hy wel by die ondersoek na die moord op Armand Swart van Vereeniging ingemeng het.
Tweedens skryf die webblad die omstrede egpaar, Peet en Mel Viljoen van Pretoria, kan tot 15 jaar tronkstraf opgelê word nadat hulle vir winkeldiefstal in Amerika gearresteer is.
En laastens publiseer die blad die volledige afskeidsboodskap van Naas Botha wat op pad is Amerika toe.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Interpol se Nasionale Sentrale Buro het drie Somaliese burgers in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, korrupsie en onwettige immigrasie na ‘n operasie by grensposte in Mpumalanga. Die arrestasies vorm deel van verskerpte optrede wat uitgevoer is met die doel om vervalste reisdokumente by Suid-Afrika se grensposte te onderskep.
# En Sowetan:
Berig dit het voor die Madlanga-kommissie aan die lig gekom generaal-majoor Richard Shibiri het na bewering die 70-duisend-rand-lening van Vusimuzi “Cat” Matlala gebruik om twee pare skoene ter waarde van 19,5-duisend-rand en 17-duisend-rand te koop. Shibiri se finansiële state dui daarop dat hy nie geld van Matlala nodig gehad het nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die ontplooiing van die weermag om die polisie in Kaapstad te ondersteun, verloop chaoties. Daar bestaan onduidelikheid oor die koördinering van die operasie en die woonplek wat vir die lede gegee word, is ook nie na wense nie.
En tweedens skryf die koerant ook oor Naas Botha se afskeid.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die moordbeskuldigde Arnold Terblanche se prokureurs het die staat uitgedaag om bekend te maak wie hulle glo eintlik sy vervreemde vrou, Vicki, vermoor het.
En tweedens skryf die koerant deelnemers is omgekrap omdat die Bellbuoy-seeswem-uitdaging uitgestel is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die sakegemeenskap het hul steun toegesê aan KwaZulu-Natal se provinsiale begroting.
En berig Eskom gaan optree teen wanbetalers deur hul krag af te sny.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Meatco het ’n hofgeding teen sy geskorste uitvoerende beampte vir veeproduksie en -verkryging, Patrick Liebenberg, aanhangig gemaak vir die beweerde wanbesteding van 6,1-miljoen-rand.
En tweedens skryf die koerant die koste van Namibië se pensioentoelae is besig om vinnig agt-miljard-rand per jaar te nader.