Nuus 06:00
BULLETIN 12 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Lamola sê ambassadeur Bozell het gebel om sy ondiplomatiese opmerkings te verduidelik
# FlySafair en Airlink verhoog kaartjiepryse namate die Iran-konflik brandstofkoste opjaag
# En die Internasionale Energie-agentskap stem in om sy grootste oliereserwes ooit vry te stel
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het bevestig dat die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, deur die departement ingeroep is om sy ondiplomatiese opmerkings te verduidelik. In ‘n toespraak by ‘n Biznews-konferensie het Bozell Amerika se frustrasie met Suid-Afrika uiteengesit omdat hulle nie gehoor gee aan versoeke oor grondonteiening, breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging en die beskerming van wit boere nie. Lamola sê Suid-Afrika se buitelandse beleid is geanker in multilateralisme en vreedsame oplossing van geskille:
Bozell het intussen sy vroeëre kommentaar oor die “Kill the Boer”-dreunsang teruggetrek. Hy het Woensdag gesê hoewel hy persoonlik glo dat dit haatspraak is, die Amerikaanse regering die onafhanklikheid en bevindinge van Suid-Afrika se regbank respekteer. Dit volg na vroeëre opmerkings by ‘n konferensie waar hy die hofuitspraak verwerp het en gesê het die besluit raak hom nie. Die EFF het in reaksie daarop gevra dat Bozell geskors word, met die ANC-sekretaris-generaal Fikile Mbalula wat hom gewaarsku het om die reëls te volg.
# Suid-Afrikaanse lugrederye het kaartjiepryse verhoog nadat stralerbrandstofkoste, wat deur die konflik in Iran gedryf word, met 70-persent gestyg het. FlySafair het ‘n tydelike brandstofheffing ingestel vir vlugte wat tussen vandag en 12 Mei bespreek word, terwyl Airlink tariewe aangepas het sonder om ‘n heffing op bestaande kaartjies te voeg. Kirby Gordon van FlySafair sê daar is geen onmiddellike bedreiging vir die plaaslike brandstofvoorraad nie, maar waarsku oor moontlike skeduleveranderinge as die krisis ná April voortduur:
# Die DA doen ‘n beroep op voortgesette ondersoeke om almal wat betrokke is by die twee-miljard-rand Tembisa-hospitaalskandaal aanspreeklik te hou. Die party beweer die voormalige hoof- finansiële beampte van die Departement van Gesondheid in Gauteng, Lerato Madyo, het ‘n geheime skikking ontvang in plaas daarvan om dissiplinêr vervolg te word oor bedrieglike kontrakte wat deur die vermoorde verklikker Babita Deokaran uitgewys is. Jack Bloom van die DA sê Madyo het na bewering drie-miljoen-rand ontvang terwyl sy vir twee jaar geskors was, en het ook ‘n onbekende skikkingsbedrag ontvang:
# Die Internasionale Energie-agentskap se 32 lede het eenparig ooreengekom om ongeveer 400-miljoen vate noodru-olie in die wêreldmark vry te stel. Dit is hul grootste vrystelling van oliereserwes ooit, wat daarop gemik is om markte te kalmeer te midde van die Midde-Oosterse konflik. Die wêreldwye oliemark het ongeveer 15-miljoen vate ru-olie per dag verloor deur die sluiting van die Straat van Hormuz. Die agentskap sê die noodvoorrade sal beskikbaar gestel word oor ‘n tydsbestek wat gepas is vir die nasionale omstandighede van elke lidland.
# Rugby: Die hulpafrigter van die Springbokke, Duane Vermeulen, sê Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-derby tussen die Bulle en die Stormers by die uitverkoopte Loftus Versfeld sal besonder mededingend wees na verlede week se eerste Bok-belyningskamp van die jaar. Hy glo die spelers wat die kamp bywoon, sal hulle beste lewer omdat daar altyd plek in die nasionale span beskikbaar is. Vermeulen verwag ‘n groot stryd. Hy sê die Bulle word as gunstelinge beskou omdat die Stormers die laaste tyd sukkel, maar hy voel nietemin enigiets kan gebeur.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-467-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-167-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….