Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die VSA-ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell, is ingeroep om sy opmerkings te verduidelik. Die koerant skryf Pretoria het ‘n formele teregwysing uitgereik oor Bozell se ondiplomatiese opmerkings oor swart ekonomiese bemagtiging en grondonteiening
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die geskorste nasionale hoof van die polisie se eenheid teen georganiseerde misdaad, generaal-majoor Richard Shiburi, het voor die Madlanga-kommissie volgehou dat die omstrede sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala nie die polisie deur ‘n sindikaat geïnfiltreer het nie.
En tweedens skryf die webblad talle Suid-Afrikaners in die VSA ondersoek die moontlikheid om terug te keer na Suid-Afrika omdat die VSA te gevaarlik geword het. Sowat 12-duisend het navraag gedoen oor hul Suid-Afrikaanse burgerstatus en sommige het reeds teruggekeer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Soshanguve-landdroshof het borgtog van twee-duisend-rand elk toegestaan aan nege mense wat daarvan beskuldig word dat hulle deelgeneem het aan die beweerde gemeenskapsmoord op ‘n dosent aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie, Madasi Sifundo. Die gemeenskap het Sifundo beskuldig van die verkragting van twee kinders.
En tweedens word berig oor die gedenkdiens vir die ontslape Cope-leier, Mosiuoa ‘Terror’ Lekota, in Soweto.
# Sowetan:
Berig Safa se besluit om die verdienste van nasionale sokkerspanne voor die Wêreldbeker in te kort, gaan na verwagting protes uitlok. Die vereniging is na wat berig word bankrot en kan nie hoë vergoedingspakkette bekostig nie.
# En The Citizen:
Skryf die ANC in Mpumalanga het onder kritiek deurgeloop vir hul verkiesingsveldtog waar hulle brood uitdeel vir stemme.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Business Day oor die VSA-ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell. Die koerant skryf die ANC en EFF het kapsie gemaak teen sy uitsprake en sê niemand kan beleid voorskryf vir Suid-Afrika nie. Die EFF wil hê hy moet uitgeskop word.
En tweedens skryf die koerant oor Pniel se kolkatte wat toe al die tyd KI-kulkatte was.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Oos-Kaap is die provinsie waar die meeste moorde vir lewensversekeringsgeld gepleeg word.
En tweedens skryf die koerant ‘n Wes-Kaapse onderwyser is geskors nadat sy ‘n leerder gespot het wat nie kos kon bekostig by ‘n fondsinsameling nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die sogenaamde Grindr-bende wat na bewering mense deur sosiale media na leë huise gelok en beroof het, het borgtog ontvang.
En tweedens berig die koerant ook oor die voorwaardes wat die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika gestel het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig planne om een van Swakopmund se geskiedkundige geboue, die Ou Poskantoor, in ’n luukse hotel te omskep, het ’n geskil tussen erfenisowerhede, ontwikkelaars en plaaslike rolspelers ontketen.
En tweedens skryf die koerant die Gobabeb-navorsingsentrum het ’n roerende huldeblyk aan die twee Britse slagoffers van verlede week se tragiese vliegtuigongeluk gebring.