Nuus 06:00
BULLETIN 11 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwelkom voortgesette groei met die BBP wat 1,1-persent styg
# Die DA vra vir ‘n parlementêre verhoor oor die veiligheid van sanitêre produkte
# En Iran vra die VN om die VSA en Israel te veroordeel vir die oortreding van omgewingsooreenkomste
# Die regering verwelkom Statistiek Suid-Afrika se jongste data wat toon die ekonomie het in 2025 met 1,1-persent gegroei, met die bruto binnelandse produk wat tussen Oktober en Desember met 0,4-persent gestyg het. Dit is die vyfde agtereenvolgende kwartaal van groei. Sleutelsektore wat die groei bevorder, sluit in finansies, handel, persoonlike dienste, landbou en regeringsdienste, ondersteun deur hoër huishoudelike besteding en belegging. Die waarnemende regeringswoordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê voortgesette hervormings ondersteun ‘n sterker ekonomie:
ActionSA sê intussen die jongste ekonomiese groeisyfers toon die ekonomie is stagnant onder die regering van nasionale eenheid. Die party sê die ekonomie se groei van slegs 0,4-persent tussen Oktober en Desember en 1,1-persent vir die jaar, is laer as die bevolkingsgroei wat beteken dat lewenstandaarde daal. Alan Beesley van ActionSA het ook kommer uitgespreek oor die groei van die onwettige ekonomie en die afname in sektore soos vervaardiging en konstruksie:
# Die waarnemende nasionale adjunkkommissaris vir Misdaadopsporing, Hilda Senthumule, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê sy was nie ingelig oor die ontbinding van die taakspan vir politieke moorde nie. Senthumule sê sy het eers in Februarie, meer as ‘n maand nadat dit uitgereik is, en deur korrespondensie van die geskorste nasionale adjunkkommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya, van die minister van Polisie, Senzo Mchunu se opdrag van Desember 2024 te hore gekom:
# Die DA sê ‘n volledige parlementêre ondersoek is nodig om vroue en meisies te beskerm na navorsing deur die Universiteit van die Vrystaat klein hoeveelhede endokrien-ontwrigtende chemikalieë in die handelsmerke van 16 sanitêre produkvervaardigers gevind het. Die party voer aan ‘n gedetailleerde hersiening van regulatoriese prosesse en veiligheidsmaatreëls moet gedoen word, ondanks ‘n versekering van die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi dat die produkte veilig is. Angel Khanyile van die DA dring aan die regering moet openbare gesondheid beskerm.
# Die Iranse regering het die Verenigde Nasies versoek om die VSA en Israel te veroordeel vir omgewingsvernietigende dade in Iran. Sedert die VSA en Israel Teheran op 28 Februarie begin aanval het, is ten minste een-duisend-245 burgerlikes dood. Iran se VN-ambassadeur, Amir-Saeed Iravani, sê die bombardering van brandstofbergingsfasiliteite het groot hoeveelhede gevaarlike gasse, insluitend koolwaterstowwe en swael, vrygestel, wat ernstige lugbesoedeling en ernstige gesondheidsrisiko’s veroorsaak. Hy sê hierdie aanvalle vorm ‘n duidelike skending van internasionale verpligtinge wat voortspruit uit multilaterale omgewingsooreenkomste.
# Rugby: Engeland se afrigter Steve Borthwick het een verandering aan hul beginspan aangebring om Frankryk Saterdag in die laaste rondte van die Sesnasies in Parys te pak. Ollie Chessum sal as linkerflank begin terwyl Sam Underhill, wat sy 50ste verskyning in Engeland gaan maak, na die bank verskuif. Borthwick se span sal daarna streef om ‘n vierde agtereenvolgende Sesnasies-nederlaag teen Frankryk te vermy, ná nederlae teen Skotland, Ierland en Italië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-27-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-539-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-190-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….