Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig daar is voor die Madlanga-kommissie getuig die sakemanne Suleiman Carrim en Hangwani Maumela het waarskynlik Vusimuzi ‘Cat’ Matlala befonds. Carrim het getuig dat hy 10-miljoen-rand in Matlala se maatskappy belê het en Maumela het 750-duisend-rand aan hom geleen.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig donateurs van die Universiteit Stellenbosch het hul voet dwars gesit oor die raadsvoorsitter, doktor Nicky Newton-King, se setel in die raad. King het gesê sy sou verkies om haar nie as skenker-kandidaat beskikbaar te stel nie.
Dan skryf die webblad die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne sê daar is geen onmiddellike brandstoftekort in die land nie.
En laastens word berig wyle Markus Jooste se reuse-eiendom in die gesogte Voëlklip-woonbuurt is vir 105-miljoen-rand verkoop.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die saak teen Tiffany Nicole Meek, die ma wat daarvan beskuldig word dat sy haar 11-jarige seun, Jayden-Lee Meek, vermoor het, is uitgestel vir pleitverrigtinge. Die koerant berig ‘n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Magaboke Mohlatlole, sê die beskuldigde is van voorneme om skuldig te pleit op sommige van die aanklagte.
# Sowetan:
Berig die vonds van ‘n gestremde man se liggaam in ‘n dam het gelei tot die arrestasie van broers en susters, ‘n eggenoot en ‘n dogter. Die koerant skryf polisie het nou nog familielede in hegtenis geneem vir moorde op nog tien lede van die familie om 10-miljoen-rand se lewensversekering in die hande te kry.
# En The Citizen:
Skryf ten spyte van president Cyril Ramaphosa se beloftes is daar nog geen weermaglede in probleemgebiede ontplooi nie. Die koerant berig meer as ‘n week later word daar nog oor die logistiek gepraat.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig soos Netwerk24 ook oor die Matie-raad en Markus Jooste se huis.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die ANC stel ondersoek in na die misbruik van identiteitsdokumente in Oos-Kaapse takverkiesings. Die Doktor WB Rubusana-streek het hoofkantoor gevra om in te gryp.
En tweedens skryf die koerant daar heers kommer oor die befondsing van die Ebubeleni-fees en Uitenhage-piekniek.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf kenners is van mening dat die begroting wat vir KwaZulu-Natal aanvaar is slegs gate sal toestop.
En tweedens word berig Mooirivier het ‘n baie welkome beleggingsinspuiting ontvang.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Stad Windhoek se vyfjaarplan het jaarliks honderde gedienste erwe en bekostigbare huise belowe, maar met net een jaar oor voor 2027, is daar vrae oor die vordering.
En tweedens skryf die koerant die sogenaamde mesvrou van Windhoek, Andrea Helena Feris wat aangekla word van die moord op haar swaer en poging tot moord op haar vervreemde man, bly tot haar volgende hofverskyning agter tralies.