Nuus 13:00
BULLETIN 8 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa sê dit was goed dat eerwaarde Jackson Nelson Mandela se vrylating in 1990 persoonlik kon beleef
# Die MK-party sê die DA het die voorsitterskap van die Toesigkomitee oor die Presidensie in die ANC se skoot laat beland
# En tennis: Djokovic en Alcaraz is deur na die volgende ronde van Indian Wells in Amerika
# President Cyril Ramaphosa sê toe oudpresident Nelson Mandela uiteindelik in 1990 vrygelaat is ná 27 lang jare tronkstraf, was eerwaarde Jesse Jackson in Kaapstad en het ‘n oomblik beleef wat die wêreld nooit sal vergeet nie. Ramaphosa het ‘n huldeblyk gelewer tydens die gedenkdiens van die ontslape burgerregteleier in Chicago en beskryf die atmosfeer as een van blydskap en vreugde, met miljoene wat nie net die vryheid van ‘n man gevier het nie, maar ook die opkomende hoop van ‘n nasie:
# Die MK Party sê alle Suid-Afrikaners wat glo die Toesigkomitee oor die Presidensie moet die uitvoerende mag aanspreeklik hou, behoort ná beraadslagings oor die Toesigkomitee bekommerd te wees. Die woordvoerder, Nhlamulo Ndhlela, sê tydens die vergadering om ‘n voorsitter van die Toesigkomitee oor die Presidensie te verkies, het die ANC vyf stemme ontvang, terwyl ‘n opposisiekandidaat wat deur ActionSA en ander opposisiepartye benoem is, vier stemme ontvang het, en die DA twee:
# Die regering doen ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners om saam te werk en ‘n samelewing sonder geslagsweld en vrouemoord te bou, waar die regte, veiligheid en bemagtiging van vroue ten volle verwesenlik word. Dit is vandag Internasionale Vrouedag, en die tema is “Give to Gain“. Die waarnemende woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die regering erken geslagsgeweld as ‘n nasionale krisis wat ‘n gesamentlike en gekoördineerde reaksie in alle sektore van die samelewing vereis:
# Die Stad Kaapstad bied dié maand ten minste 91 geleenthede aan, met nog permit-aansoeke wat steeds ontvang word. Daar word verwag die geleenthede sal gesamentlik ongeveer 300-duisend besoekers na plekke regoor die metro lok. Maart sluit verskeie kenmerkende jaarlikse geleenthede in, wat ‘n beduidende ekonomiese inspuiting bied en die stad se posisie as ‘n toonaangewende wêreldwye geleentheidsbestemming versterk. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê vier van die geleenthede, insluitend die Kaapstadse-fietswedren, het ‘n gesamentlike ekonomiese uitwerking van ongeveer 1,8-miljard-rand.
# Fietsry: Die Suid-Afrikaanse beroepsryer Ryan Gibbons het vanoggend ‘n opwindende oorwinning behaal in die mans-afdeling van die 109 kilometer lange 2026 Kaapstad-fietstoer en ‘n tyd van twee uur, 33 minute en ses sekondes opgestel. Hy het Jaedon Terlouw en Ryno Schutte in ‘n hoëspoed-eindstryd in Groenpunt geklop. In die 78 kilometer vroue-wedren het Lisa Bone vir Daria Pravilova en Kate Courtney uitgestof en die titel binne 2 ure ses minute en 26 sekondes gewen. Die geleentheid lok jaarliks byna 30-duisend fietsryers en dit is die wêreld se grootste wedren met elke deelnemer se tyd wat gemeet word.
# En, tennis: Die Ronde van 64 op Indian Wells in Kalifornië is oorheers deur topgekeurdes. Die derde gekeurde Novak Djokovic het eers benoude oomblikke beleef, maar het Kamil Majchrzak in drie stelle geklop, en die topgekeurde Carlos Alcaraz het Grigor Dimitrov in skoon stelle geklop. Die plaaslike gunsteling Taylor Fritz het in drie stelle gevorder, en Daniil Medvedev is ook deur. Die verdedigende vrouekampioen Mirra Andreeva het Solana Sierra uitgeskakel en Jessica Pegula het teen Donna Vekic teruggeveg om haar plek in die ronde van 32 te verseker.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….