Nuus 13:00
BULLETIN 6 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vrystaat is nou die middelpunt van die bek- en klouseer-uitbreking
# Volkswagen herroep meer as 25-duisend Polo Vivo-voertuie in Suid-Afrika
# En krieket: Brendon McCullum wil aanbly as Engeland se afrigter
# Die Vrystaat het KwaZulu-Natal verbygesteek as die middelpunt van bek-en-klouseer, met 277 aktiewe uitbrekings vergeleke met 202 in KwaZulu-Natal. Die Departement van Landbou het hierdie week sy inentingsveldtog begin met meer as 119-duisend beeste wat in die Vrystaat ingeënt is. Die Parlement se portefeuljekomitee oor Landbou beplan ‘n toesigbesoek aan die provinsie om pogings tot inperking te beoordeel. Daar is landwyd 935 uitbrekings aangeteken. Owerhede vra boere om waaksaam te bly en net goedgekeurde entstowwe te koop.
Nog landbounuus:
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê die pluimveebedryf wil uitbrei na uitvoermarkte. Suid-Afrika is volgens ‘n studie deur die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid die wêreld se tweede mees mededingende pluimveeprodusent ná Brasilië. Die vereniging sê plaaslike produksie het genoeg toegeneem om aan die binnelandse vraag te voldoen. Die buro sê toegang tot wêreldmarkte en die bekendstelling van voëlgriep-inentings is belangrik om groei te bevorder, werksgeleenthede te skep en die sektor te versterk.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het die terugroeping van 25-duisend-729 Volkswagen Polo Vivo-voertuie aangekondig wat tussen Februarie 2025 en verlede maand verkoop is. Volkswagen sê ‘n fout met die hoogte van die handrem-hefboom se klinknael kan verhoed dat die handrem behoorlik inskakel, of in buitengewone gevalle veroorsaak dat dit onverwags ontkoppel. Eienaars word versoek om hulle voertuie na gemagtigde handelaars te neem vir gratis ondersoeke en herstelwerk. Motoriste word aangeraai om parkering op opdraendes te vermy en voertuie met ratte of parkeermodus te beveilig.
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy wil seker maak alle studente wat in aanmerking kom, kry hierdie akademiese jaar veilige en gepaste verblyf. Die skema het reeds 224-duisend-983 verblyfaansoeke van studente reg oor die land ontvang. Die skema se raadsvoorsitter, Mugwena Maluleke, sê 148-duisend-825 studente en verblyfverskaffers het ondertekende kontrakte ingedien wat hulle verblyfreëlings vir die jaar bevestig:
# Krieket: Brendon McCullum wil aanbly as Engeland se afrigter, maar erken ernstige gesprekke sal moet plaasvind. Dit volg nadat Engeland uit die T20-Wêreldbekertoernooi geskakel is toe hulle in die halfeindstryd met net sewe lopies teen die verdedigende kampioen, Indië, verloor het. McCullum, wie se kontrak eers verstryk na volgende jaar se reeks om die As en die eendag-Wêreldbekertoernooi, sê hy wil nog baie dinge met die span bereik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-28-sent teen die euro en 22-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-392-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-97-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….