Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-haker Malcolm Marx is aangewys as Speler van die Jaar op die 2025 SA Rugby-toekennings in Kaapstad. Nadine Roos is die tweede agtereenvolgende seisoen die Vrouespeler van die Jaar en ook die Springbok-vroue se Sewes-speler van die Jaar. Ethan Hooker en Byrhandré Dolf is onderskeidelik aangewys as die mans en vroue se Jong Speler van die Jaar. Die Springbokke spog met die toekenning vir Span van die Jaar en Rassie Erasmus is Afrigter van die Jaar.
Nog rugbynuus: Die Sesnasies hervat vandag na ‘n week lange onderbreking, met Ierland wat Wallis vanaand in Dublin verwelkom. Môre sal Skotland en die verdedigende kampioen, Frankryk, in Edinburgh kragte meet, gevolg deur die botsing tussen Italië en Engeland op die Stadio Olimpico in Rome. Die onoorwonne Frankryk is bo-aan die punteleer met 15 punte voor die laaste twee rondes. Skotland is tweede met 11 punte en Ierland derde met nege. Engeland is vierde, Italië vyfde en Wallis soos gewoonlik laaste.
# Sokker: Die minister van Sport, Gayton McKenzie, sê Suid-Afrika is gereed om die uitgestelde Afrikabekertoernooi vir vroue in Julie aan te bied en sê die land het die nodige stadions. Die Afrika-beheerliggaam het bevestig die kompetisie, wat die 17de van dié maand sou begin, is uitgestel. Dit volg op berigte dat Marokko dit nie meer wil aanbied nie. McKenzie sê indien Marokko onttrek, is Suid-Afrika gereed met al die nodige infrastruktuur. Banyana Banyana is in Groep B ingedeel saam met Burkina Faso, Tanzanië en die Ivoorkus.
# Krieket: Brendon McCullum wil aanbly as Engeland se afrigter, maar erken ernstige gesprekke sal moet plaasvind. Dit volg nadat Engeland uit die T20-Wêreldbekertoernooi geskakel is toe hulle in die halfeindstryd met net sewe lopies teen die verdedigende kampioen, Indië, verloor het. McCullum, wie se kontrak eers verstryk na volgende jaar se reeks om die As en die eendag-Wêreldbekertoernooi, sê hy wil nog baie dinge met die span bereik:
# En motorsport: Die Formule Een-wêreldkampioen, Lando Norris, is steeds honger vir meer sukses. Die nuwe seisoen begin die naweek in Melbourne, Australië. McLaren se 26-jarige Britse renjaer sê die oorwinning in verlede seisoen se kampioenskap het nie sy werksetiek of begeerte om die beste te wees, verander nie. Norris het verlede jaar se Australiese Grand Prix gewen nadat hy voor weggespring het. Die span is nie besonder beïndruk met hul motors se werkverrigting in voorseisoense toetse nie, terwyl spanhoof Andrea Stella glo hulle is agter Ferrari en Mercedes.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….