Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 05 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die geskorste generaal-majoor Richard Shibiri van die polisie het aan die Madlanga-kommissie gesê die 70-duisend-rand wat hy van die omstrede Vusi Matlala ontvang het, was slegs ‘n lening wat hy reeds terugbetaal het.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die leier van die National Coloured Congress, Fadiel Adams het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê die onthullings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, was bloot ‘n teatrale, oorgedramatiseerde optrede.
Dan skryf die webblad ‘n Suid-Afrikaanse kleuterskoolonderwyseres in Doebai sê sy het net pannekoek gebak toe die missiele Saterdag om haar huis ontplof het.
En laastens is daar nuus oor die afsterwe van die 65-jarige akteur en komediant Soli Philander. Die oorsaak van sy dood is nie bekend nie.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf Suid-Afrikaners in die Midde-Ooste word toenemend blootgestel aan gevaarlike omstandighede.
En tweedens word berig al die graad 1- en graad 8-leerders in Gauteng is uiteindelik in skole geplaas.
# Sowetan:
Berig die polisie het ‘n klopjag uitgevoer op ‘n fabriek in ‘n informele nedersetting in Ekurhuleni waar bekende handelsmerk skoonmaakmiddels onwettig vervaardig word.
# En The Citizen:
Skryf oor die Thembisile Hani plaaslike munisipaliteit in Mpumalanga waar inwoners kla dat buitensporige begraafplaastariewe gehef word terwyl daar geen dienste is om die begraafplaas in stand te hou nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die stadsbestuurder van Kaapstad, Lungelo Mbandazayo wat as fluitjieblaser opgetree het toe hy bewus word van tenderbedrog deur ‘n maatskappy wat instandhoudingswerk aan infrastruktuur doen. Die maatskappy het miljoene rand aangebied toe hulle bewus geword het van ‘n ondersoek teen hulle.
Dan skryf die koerant die gedragskomitee van die Wes-Kaapse wetgewer het opdrag gegee dat premier Alan Winde berispe moet word omdat hy nie sy geborgde besoek aan die Klimaatberaad in New York gerapporteer het nie.
En laastens is daar nuus oor die sanger Bobby van Jaarsveld wie se seun Leben se oog deur ‘n laser beskadig is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ná ‘n vlaag skietvoorvalle het die inwoners van Khwazekele ‘n beroep op die regering gedoen om die weermag onmiddellik soontoe te stuur.
En tweedens skryf die koerant die vriendskapsverhouding tussen ‘n gebruiktevoertuighandelaar, Mark Smith en Kevin Meiring het ontaard in ‘n strafregtelike saak met bewerings van aanrandings en diefstal.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Royal Show in Pietermaritzburg is as gevolg van die bek-en-klouseer uitgestel tot Oktober.
En tweedens is daar nuus oor die jongste verwikkelinge in die Midde-Oosterse krisis.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig myne sal vroeër begin maatskappybelasting betaal nadat hulle winsgewend word, anders as in die verlede toe ou verliese gebruik kon word om belastingbetaling vir jare uit te stel.
En tweedens skryf die koerant die Stampriet Aquifer Uranium Mining Association sê hy is nooit geraadpleeg oor die staande komitee oor Natuurlike Hulpbronne se verslag oor Headspring Investments se beplande in situ-logingsprojek nie.