Nuus 06:00
BULLETIN 5 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa belowe steun vir die Suid-Afrikaners wat in die Midde-Oosterse konflik vasgevang is
# Die ANC beskuldig die DA dat hulle leuens oor die Tshwane-waterkrisis versprei
# En krieket: Nieu-Seeland is deur na die T20 Wêreldbeker-eindstryd na ‘n oortuigende oorwinning oor die Proteas
# President Cyril Ramaphosa sê die regering werk daaraan om Suid-Afrikaners te help wat gestrand is in lande wat geraak word deur die toenemende konflik tussen die VSA, Israel en Iran. Ramaphosa het tydens die Afrika Energie-indaba in Kaapstad die situasie as gevaarlik en moontlik verreikend beskryf. Hy sê repatriasie sal voortgaan sodra die lugruim weer veilig is, en sê Suid-Afrika het streekleiers betrek om te help met die beskerming van sy burgers:
’n Amerikaanse vlootduikboot het intussen ’n Iranse oorlogskip in die Indiese Oseaan teen die Sri Lankaanse kus met ’n torpedo gesink, en die lewens van ten minste 80 mense aan boord van die Iris Dena geëis. Dit is die eerste Amerikaanse aanval op Iranse magte buite die Midde-Ooste. Volgens Sri Lanka se ministerie van Buitelandse Sake is 32 van die bemanningslede gered en na die hospitaal geneem. Die Amerikaanse minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê dit is die eerste keer sedert die Tweede Wêreldoorlog dat ’n vyandelike skip deur ’n torpedo gesink word.
# Die geskorste hoof van die Georganiseerde Misdaadeenheid van die Polisie, Richard Shibiri, het bewerings van institusionele kaping binne die polisie ontken. Shibiri word daarvan beskuldig dat hy ingemeng het in die ondersoek na die moord op die ingenieur Armand Swart van Vereeniging in 2022. Die sakeman Katiso “KT” Molefe is een van die vier verdagtes. Shibiri het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê hoewel beamptes in klein groepies gekompromitteer kan wees, is hy nie bewus van sistemiese kaping nie:
# Die ANC beskuldig die DA daarvan dat hulle ‘n desperate verkiesingsveldtog voer deur valse berigte oor ‘n finansiële en waterkrisis in Tshwane te versprei. Die party sê die DA oordryf diensleweringsuitdagings en ignoreer sy eie rol in verwaarlosing van infrastruktuur en finansiële wanbestuur gedurende sy ampstermyn. Joel Masilela ka Mahlangu van die ANC verseker inwoners die ANC-geleide koalisie werk om watertekorte aan te spreek en dienste te herstel:
# Die Departement van Minerale en Petroleum Hulpbronne het Rio Tinto se besluit verwelkom, om die nege-miljard-rand Zulti South-projek in KwaZulu-Natal te laat herleef. Die Richards Bay Minerals-projek, wat minerale lewer wat in produkte van verf tot slimfone gebruik word, sal na verwagting werksgeleenthede, vaardigheidsontwikkeling en plaaslike ekonomiese groei bevorder. Die Departement sê die belegging weerspieël hernude vertroue in die mynbousektor en beklemtoon die belangrikheid van samewerking tussen die regering, nywerheid en gemeenskappe.
# Krieket: Nieu-Seeland is deur na die T20 Wêreldbeker-eindronde na ‘n oorwinning met nege paaltjies oor Suid-Afrika in die halfeindronde in Kolkata. Cole McConchie en Matt Henry het elk twee paaltjies geneem, met die Proteas wat beperk is tot 169 vir agt in hul toegelate 20 boulbeurte. Marco Jansen het ‘n onoorwonne 55 aangeteken. Finn Allen het daarna ‘n onoorwonne 100 van slegs 33 balle aangeteken, die vinnigste honderdtal in die T20 Wêreldbeker-geskiedenis, om die Swart Pette na oorwinning te lei. Nieu-Seeland sal in Sondag se finaal teen Indië of Engeland te staan kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-842-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-140-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-43-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….