Nuus 17:00
BULLETIN 4 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC vereer Mosiuoa Lekota vir sy rol in die stryd teen apartheid
# Richard Shibiri verduidelik die verlore WhatsApp-boodskappe te midde van Matlala-bewerings
# En, Unisa registreer 422-duisend studente vir die 2026 akademiese jaar
# Die ANC is bedroef oor die dood van die apartheidskampvegter, Mosiuoa Lekota. Hy het later in sy lewe die ANC verlaat en die Congress of the People gestig, maar die party sê Lekota was ‘n belangrike leier in die stryd teen apartheid. Die ANC het waardering betuig vir sy werk in die United Democratic Front, die Black Consciousness Movement, en die agt jaar wat hy in die tronk op Robbeneiland deurgebring het. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu, het haar meegevoel betuig met Lekota se gesin, kollegas en ondersteuners:
# Die hoof van die SAPD se Georganiseerde Misdaadeenheid, Richard Shibiri, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy kan nie onthou dat hy WhatsApp-boodskappe aan die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala gestuur of ontvang het nie nadat sy SAPD-foon herstel is. Shibiri het verduidelik dat die toestel oorverhit het tydens ‘n opdatering. Nadat dit deur Vodacom herset is, het alle herwonne boodskappe permanent verlore gegaan en geen rugsteunkopie is gemaak nie. Hy het bevestig dat boodskappe as deel van roetine-instandhoudingverwyder is, en nie om inligting te verdoesel nie:
# Die Universiteit van Suid-Afrika het bykans 422-duisend studente geregistreer, met 318-duisend volledig ingeskrewe studente aan die begin van die 2026 akademiese jaar. Die registrateur, Moloko Sepota sê inskrywings het met 18-duisend toegeneem teenoor verlede jaar, wat die groeiende vertroue in die instelling weerspieël. Agthonderd nuwe dosente is ook aangestel. Sepota sê die universiteit het loopbaanvoorligting, oriëntasie, akademiese geletterdheid en psigomaatskaplike ondersteuning aangebied om die oorgang na tersiêre studie te vergemaklik en die uitvalsyfers te verminder.
# Die Verenigde Nasies se Nywerheidsontwikkelings-organisasie sê die vermindering van globale koolstofuitstralings sal groen nywerhede en werkskepping vereis. Die programbestuurder, Karin Reiss, het tydens die Afrika-energie Indaba 2026 in Kaapstad gesê die Belem-verklaring wat tydens COP30 aangeneem is, ondersteun die veldtog. Die beloftes was om maatskaplike beskermingstelsels, voedselsekerheid en die uitwissing van armoede by klimaatsveerkragtigheidstrategieë te integreer. Sy het beleids-belyning, vaardigheidsontwikkeling en toegang tot klimaatbefondsing aangespoor om lae-koolstof nywerheidspilpunte aan te dryf.
# Rugby: Wallis se afrigter, Steve Tandy, het drie veranderinge aan sy span aangebring vir Vrydag se Sesnasies-wedstryd teen Ierland in Dublin. Hulle hoop om hulle gesukkel in die kompetisie te beëindig. Die flank James Botham is die eerste keer hierdie seisoen in die beginspan en vervang die beseerde Taine Plumtree. Dan Edwards vervang die beseerde losskakel Sam Costelow, terwyl Ellis Mee op vleuel terugkeer ten koste van Gabriel Hamer-Webb. Tandy sê hulle wil voortbou op hulle goeie vertoning teen Skotland, waar hulle eers laat in die wedstryd verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-276-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-187-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 80-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….