Nuus 18:00
BULLETIN 4 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Buti Manamela sê bewysgegronde beplanning is belangrik vir ‘n inklusiewe naskoolse onderwysstelsel
# Build One South Africa vra vir ‘n einde aan taalongelykheid in skole
# En, GIWUSA is bekommerd oor die jongste brandstofprysverhogings
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het die regering se verbintenis tot navorsingsgedrewe vaardigheidsbeplanning herbevestig. Hy was deel van die eerste navorsings-gesprek wat die Voedsel- en Drankvervaardigingssektor se Onderwys- en Opleidingsowerheid aangebied het. Manamela sê navorsing moet gelei word deur beleidsbesluite, moet samewerking met die bedryf versterk en reaksie op arbeidsmark-eise verbeter. Hy beklemtoon bewysgebaseerde beplanning is uiters belangrik vir ‘n bekwame en inklusiewe naskoolse onderwysstelsel wat ekonomiese groei ondersteun.
# Build One South Africa het tydens ‘n debat oor Internasionale Moedertaaldag die Parlement gevra om aandag te skenk aan taalongelykheid in skole. Die party se woordvoerder, Roger Solomons, sê die meeste leerders word in Engels onderrig, al praat min van hulle dit by die huis. Hy sê die bevindings van die 2030 Leespaneel waarsku teen ‘n geletterdheidskrisis en bepleit die uitbreiding van moedertaalonderrig. Solomons vra ook verbeterde leerstof en sterker veeltalige onderwyseropleiding:
# Die vakbond GIWUSA het kommer uitgespreek oor die jongste styging in brandstofpryse. Albei grade petrol kos van vandag 20-sent per liter meer terwyl die dieselprys met tussen 62- en 65-sent gestyg het, afhangend van die swaelinhoud. GIWUSA se woordvoerder, Zaki Mamdoo, sê dit gaan ’n onmiddellike en rampspoedige gevolg hê op voedselpryse, aangesien die meeste van Suid-Afrika se landbou- en vervaardigde produkte per pad vervoer word:
# Die Inkatha Vryheidsparty betreur die dood van die veteraan anti-apartheidsaktivis en stigter van COPE, Mosioua Lekota, op 77-jarige ouderdom. Die party het Lekota geprys vir sy vreeslose leierskap, sy rol in die bevrydingstryd, en sy diens as Vrystaatse premier en minister van Verdediging. Die IVP sê sy beginselvaste benadering, insluitend die medestigting van COPE en die verdediging van demokratiese waardes, het hom die respek van al sy parlementêre kollegas besorg. Woordvoerder Nhlanhla Hadebe het sy meegevoel betuig aan Lekota se familie en COPE se lede.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, en die Amerikaner Coco Gauff steun die idee van woedekamers weg van die kameras waar spelers hul frustrasies kan uitwoed. ‘n WTA-toernooi in Austin, Texas, het dit ingestel na Gauff se woede-uitbarsting nadat sy in Januarie uit die Australiese Ope geskakel is. Dit is wêreldwyd versprei terwyl sy gedink het dis privaat. Sabalenka waarsku egter daar sal niks oor wees as sy daar was nie. Gauff glo dit sal prettiger wees om borde te breek as om ‘n raket stukkend te slaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-595-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-168-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 79-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….