Oggendkoerant-veslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Suid-Afrikaanse tegnologiemaatskappy, iOCO het aangekondig sy verdienste per aandeel sal na verwagting ‘n toename toon van tussen 42- en 58-persent teenoor die verdienste vir die vergelykbare ses maande geëindig op 31 Januarie 2025. Die koerant skryf die aandeelterugkoop is daarop gemik om aandeelhouerswaarde te verhoog en kapitaalstruktuur te optimaliseer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig president Donald Trump sê dis nou te laat om met Iran te onderhandel. Iran het in reaksie gesê die VSA verstaan nie onderhandeling nie. Die land verstaan net verdediging.
Dan skryf die webblad die ANC het die leierskorps van die Weskus, Overberg en Wynland ontbind omdat hul termyne verstryk het en hul berade nie betyds gehou is nie. Die leierskorps is met taakspanne vervang om die partystrukture reg te ruk.
En laastens is daar nuus oor die waterstelsel in Gauteng. Hoewel die bergingsvlak tot 44,4-persent herstel het, verkeer dit steeds onder groot druk.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die minister van Openbare Werke en Infrastruktuurontwikkeling, Dean Macpherson, het gewaarsku dat die Stad Johannesburg ‘n ineengestorte gebou in Ormonde sal sloop indien die verantwoordelike maatskappy versuim om na vore te kom en aanspreeklikheid te aanvaar. Die dodetal in die ramp het intussen tot nege gestyg.
En tweedens berig die koerant koning Misuzulu ka Zwelithini se voorstel vir die hernoeming van KwaZulu-Natal na KwaZulu kry toenemend steun van die politieke partye wat in die provinsiale wetgewer verteenwoordig word.
# Sowetan:
Berig ook oor die Ormonde-ramp waar dit nou aan die lig gekom het dat die New World Order-maatskappy nooit by die Boureguleerder geregistreer was nie en die owerhede sukkel om vas te stel wie verantwoordelik is.
# En The Citizen:
Skryf ook oor Trump se besluit om nie met Iran te onderhandel nie. Hy sê die groot aanval is nog op pad.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor ‘n gesin van Durbanville wat deur ‘n ramp getref is. Terwyl die ma in die hospitaal is, is die seun in die ongekuk dood.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n man wat gaan dagvaar nadat hy by ‘n gholfklub gebrand het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die vernaamste rede waarom die fondse wat aangewend moet word vir veiligheid en sekuriteit nie bestee word nie, is die groot aantal vakatures in die onderskeie departemente. Die koerant skryf verskeie burgerlike organisasies het ‘n dringende beroep gedoen dat die poste gevul word.
En tweedens skryf die koerant die beloofde weermagsteun het nog nie in Nelson Mandelabaai aangekom nie en die gemeenskap ly onder misdaad en moorde.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf Durban het twee reuse-standbeelde onthul wat elk 22-miljoen-rand gekos het. Die een is van die ANC-leier Oliver Tambo op die promenade en die ander is van Nelson Mandela by die Moses Mabhida-stadion.
En tweedens word berig oor die uitwerking van die Iranse oorlog op internasionale markte.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens brandstofpryse in Namibië kan styg indien die Iranse oorlog nie vinnig beëindig kan word nie.
En tweedens skryf die koerant ’n groep van 252 voormalige Namibiese werknemers van die Yslandse vismaatskappy Samherji het formeel regstelling en vergoeding geëis oor die voorwaardes van hul ontslag, meer as ses jaar nadat hulle afgelê is in die nadraai van die Fishrot-korrupsieskandaal.