Nuus 06:00
BULLETIN 4 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vergadering keur president Ramaphosa se salarisverhoging van 3,8-persent goed
# Thabo Bester se aansoek om na die Kgosi Mampuru-gevangenis teruggestuur te word, word van die hand gewys
# En krieket: Die Proteas en die Swart Pette pak mekaar vandag in die eerste halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker
# Die Nasionale Vergadering het ‘n salarisverhoging van 3,8-persent vir president Cyril Ramaphosa goedgekeur. Die verhoging sal sy jaarlikse salaris op net meer as 3,4-miljoen-rand te staan bring. Dit volg op ‘n aanbeveling van die Onafhanklike Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers, wat oorspronklik ‘n aanpassing van 4,1-persent aanbeveel het. Die ANC se adjunkhoofsweep, Dorris Dlakude, het die salarisverhoging verdedig en sê die president verdien baie minder as baie uitvoerende hoofde van staatsondernemings en sommige openbare agentskappe. Sy sê die salarisverhoging bevoordeel ook voormalige presidente.
# Die Hooggeregshof in Pretoria het die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester se dringende aansoek om teruggeplaas te word na die Kgosi Mampuru Korrektiewe Sentrum in Pretoria, van die hand gewys. Hy is onlangs na die eBongweni Super Maksimum Korrektiewe Sentrum in Kokstad, KwaZulu-Natal, verskuif vanaf Pretoria, waar hy vir byna drie jaar aangehou is. Bester se regspan het aangevoer dat die oordrag onredelik en prosedureel onbillik was. ‘n Soortgelyke aansoek is verlede maand van die rol geskrap. Regter John Holland-Muter sê die oordrag was wettig:
# Die adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Tebello Mosikili het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê sy het eers van die ontbinding van die Taakspan vir Politieke Moorde gehoor na ‘n media-ondersoek terwyl sy as nasionale kommissaris van Polisie opgetree het. Mosikili het verduidelik dat sy leiding by die nasionale kommissaris, Fannie Masemola gesoek het weens die mediaophef en die erns van die brief. Sy sê sy ondersoek steeds hoe die e-pos, wat aan haar en ander gestuur is, na die media gelek is:
# Die GOOD-party sê die dood van minstens nege mense toe ‘n gebou in Ormonde, suid van Johannesburg, Gauteng, ineengestort het, was voorkombaar. Die party sê die struktuur is na bewering sonder goedgekeurde planne opgerig en kritiseer die stad omdat hy nou eers optree nadat nadat daar sterftes was. Matthew Cook van die party bepleit strenger handhawing van bouregulasies en verantwoordbaarheid deur amptenare wat hul pligte verwaarloos het:
# Olie- en gaspryse het Dinsdag wêreldwyd skerp gestyg met die VSA-Israelse oorlog teen Iran wat energie-uitvoere uit die Midde-Ooste belemmer het. Teheran se aanvalle op skepe en energiefasiliteite het seevaart in die Golf tot stilstand gedwing en produksieonderbrekings van Katar tot Irak afgedwing. Die prys van Brent-ruolie het Dinsdag met byna agt-persent gestyg tot bo 83-dollar per vat, die hoogste sedert Julie 2024. Irak het Dinsdag gesê hy kan moontlik gedwing word om produksie met meer as drie-miljoen vate per dag te verminder as olietenkskepe nie vrylik na laaipunte kan beweeg nie.
# Krieket: Suid-Afrika en Nieu-Seeland speel vandag teen mekaar in die eerste halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker. Die wedstryd word in Kolkata gespeel, waar Eden Gardens na verwagting met 68-duisend toeskouers gepak sal wees. Die voormalige Australiese paaltjiewagter Ryan Campbell het sy geld op Suid-Afrika gesit om die eindstryd te haal en sê hulle het tot dusver nog nie ‘n voet verkeerd gesit nie en al hul groep- en Super Agt-wedstryde gewen. Die mede-gashere, Indië, sal môre teen Engeland speel in die tweede halfeindstryd in Wankhede. Die eindstryd vind Sondag in Ahmedabad plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-335-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-88-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….