Nuus 06:00
BULLETIN 3 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA is gereed om hof toe te gaan oor die sensuur van die Phala Phala-verslag
# Ses werkers is dood na ‘n gebou in Ormonde, Johannesburg, ineenstort
# En Trump sê die “groot vlaag” van aanvalle teen Iran moet nog kom
# ActionSA sê hulle is gereed om regstappe te doen indien enige deel van die gedeklassifiseerde Phala Phala-verslag gesensor word. Die verslag, wat beweerde wanhantering deur die presidensiële beskermingseenheid tydens ‘n rooftog op president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo ondersoek, is uiteindelik oopgestel na meer as ‘n jaar van vertragings. Michael Beaumont van ActionSA sê die party sal veg om die waarheid bloot te lê agter die byna tien-miljoen-rand wat op Ramaphosa se plaas gevind is:
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, vra vir geduld na die inhegtenisneming van drie senior amptenare van die Departement van Gesondheid. Die amptenare, onder andere die direkteur-generaal Sandile Buthelezi, is gister deur die Gespesialiseerde Handelshof in Pretoria op borgtog van tien-duisend-rand elk vrygelaat. Hulle het na bewering meer as een-miljoen-rand aan ‘n ongeregistreerde maatskappy toegeken in onreëlmatige aankope, wat behoorlike voorsieningskettingprosesse omseil het. Foster Mohale van die departement sê die wet moet sy gang gaan:
# Die jongste Absa-aankoopbestuurderindeks toon dat Suid-Afrika se vervaardigingsektor in Februarie gekrimp het. Die hoofindeks het van 48,7 in Januarie tot 47,4 verlede maand gedaal, met sake-aktiwiteit en indiensneming wat albei afgeneem het. Nuwe bestellings het grootliks onveranderd gebly, terwyl uitvoerverkope swak bly. Vertragings in die voorsieningsketting, elektrisiteitsonderbrekings en lae vraag beïnvloed steeds die sektor. Aan die positiewe kant is besighede effens meer optimisties oor toekomstige toestande, maar oor die algemeen kan die sektor aanhoudende uitdagings verwag.
# Ses werkers is gister dood ná die ineenstorting van die eerste verdieping se betonblad van ‘n tweeverdiepinggebou by Amethyst Business Park in Ormonde, suid van Johannesburg. Hulle was deel van ‘n groep van 12 werkers wat ‘n fabriek op die perseel bou. Volgens EMS is twee mense steeds vasgekeer, een persoon is gered, en drie word vermis. Die burgemeesterskomiteelid vir Openbare Veiligheid in Johannesburg, Mgcini Tshwaku, sê ‘n deeglike ondersoek sal gedoen word.
# Die Amerikaanse president Donald Trump sê die groot vlaag aanvalle teen Iran lê nog voor. Die VSA en Israel het Iran Saterdag aangeval en die land se opperleier, ajatolla Ali Khamenei, doodgemaak. Die Israelse weermag het Maandag nuwe aanvalle op Teheran van stapel gestuur. Trump het aan CNN gesê Iran se vergeldingsaanvalle op naburige Arabiese lande soos Katar en die Verenigde Arabiese Emirate was ‘n groot verrassing. Hy sê die VSA probeer om die Iranse volk te help om beheer oor hul land van die regime terug te kry.
# Gholf: Die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero, het bevestig die voorbereidings vir die 18de Johannesburgse Ope hierdie naweek in Houghton is voltooi. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika het Morero gesê die gebied het geen waterprobleme gehad nie, aangesien die gholfbane op grondwater staatmaak. Die burgemeester na die toerisme-aantreklikheid en internasionale belangstelling verwys en gesê die aanbieding van sulke geleenthede identifiseer Johannesburg as ‘n sportkern en beklemtoon die voortdurende infrastruktuurontwikkeling:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-7-sent teen die dollar, 18-rand-79-sent teen die euro en 21-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-347-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-321-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….