Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Maart 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die direkteur-generaal van Gesondheid, Sandile Buthelezi en nog senior amptenare het in die hof verskyn weens beweerde bedrog. Die staat voer aan Buthelezi het na bewering geld uit die globale fonds misbruik.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die Ekurhuleni-metro nader nou die Openbare Beskermer om ondersoek in te stel na ‘n tender wat aan die eggenoot van die omstrede Vusimuzi ‘Cat’ Matlala toegeken is. Die tender vir vaardigheidsontwikkeling is aan Tsakane Matlala toegeken.
Dan skryf die webblad die VSA sê hy is nie in hierdie stadium gereed om grondmagte in Iran te ontplooi nie. President Donald Trump sê die VSA het aangeval omdat Iran se missiele Europa ook kon bereik.
En laastens word berig die EFF het nou ook betrokke geraak by die Wes-Kaapse Hooggeregshofsaak om die Grondonteieningswet te betwis. Die DA, AfriForum en Vaderlandstigting het die saak aanhangig gemaak.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens oor ‘n gebou wat ineengestort het in Ormonde in Johannesburg. Minstens ses werkers het omgekom in die voorval.
En tweedens berig die koerant die burgemeester van Johannesburg, Dada Morero wag tans op die ANC se nasionale bestuur om ‘n besluit te neem oor sy toekoms in die amp.
# Sowetan:
Berig drie senior amptenare van die Departement van Gesondheid het in die hof verskyn oor die toekenning van ‘n tender in 2023. Die koerant skryf toe die tender toegeken is, was die maatskappy, Ithani Amen, slegs ‘n week oud en het nie eens ‘n BTW-registrasienommer gehad nie.
# En The Citizen:
Skryf oor ’n landbouprojek in Mpumalanga wat ter ere van wyle adjunkpresident David Mabuza geskep is. Daar is niks van die projek oor nie. Selfs die kweektonnels is kaal gestroop.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig dit het aan die lig gekom ‘n Iranse oorlogskip het tydens die omstrede BRICS-vlootoefening in Kaapstad gesink.
En tweedens skryf die koerant Zurenah Smit wat aangekla word van die moord op haar man Stefan, het opnuut om borgtog aansoek gedoen. Sy sê die mediese diens by die Pollsmoor-gevangenis is nie toereikend nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens oor die voortslepende geskil oor die transformator van Nelson Mandelabaai wat uitgehuur is. Die koerant skryf die munisipaliteit wil nou hê die hof moet ingryp in die geskil.
En tweedens het die koerant met Oos-Kaapse gesinne gepraat oor hul ondervindings tydens die aanvalle op Iran.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf motoronderdele is by die Msunduzi-munisipaliteit gesteel.
En skryf die oorlog in die Midde-Ooste het reeds ‘n negatiewe uitwerking op die Suid-Afrikaanse brandstofprys
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vakbonde in die openbare sektor het die salarisverhoging van vyf-persent vir staatsamptenare verwerp en dit as “betekenisloos” beskryf. Hulle sê die verhoging laat hulle slegter daaraan toe wanneer die verhoogde aftrekkings intree.
En tweedens skryf die koerant die veroordeelde moordenaar, Jandré Dippenaar wat gelas is om sowat vyf-miljoen-rand in ’n siviele eis aan die Duitse burger, Antonia Joschko te betaal, sal nie die geld regstreeks aan haar kan betaal nie.