Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 27 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die Proteas het deurgedring na die halfeindronde van die T20-Wêreldbekertoernooi nadat hulle die Wes-Indiese Eilande in Ahmedabad met nege paaltjies verslaan het, en die verdedigende kampioen, Indië, Zimbabwe in Chennai met 72 lopies geklop het. Die Proteas sal nou probeer om hul onoorwonne rekord voort te sit wanneer hulle Sondag in Delhi teen Zimbabwe speel in hul laaste Super-agt-wedstryd. Kaptein Aiden Markram sê hulle aanvaar niks as vanselfsprekend nie:
Nog krieketnuus: Die voormalige Protea-ster Imran Tahir is terug by die Dolphins in Durban wanneer die span vandag begin met die verdediging van sy KSA Eendagbeker-titel teen die Warriors in Gqeberha. Die 46-jarige Tahir het in 2020 laas vir die Dolphins gespeel en bring belangrike ervaring, veral nadat die Dolphins sewe spelers aan die Protea-groep moes afstaan vir hul toer na Nieu-Seeland. Die afrigter, Quinton Friend, sê met die eendag–Wêreldbekertoernooi wat volgende jaar in Suid-Afrika plaasvind, glo hy die plaaslike 50-boulbeurt-kompetisie is baie belangrik.
# Rugby: Die Haaie se Springbok-vleuel, Edwill van der Merwe, sê hulle besef hulle lugspel moet verbeter nadat hulle verlede naweek teen die Leeus daarmee gesukkel het. Die Durbanse span het die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd 34-22 verloor en speel môre teen die Bulle op Loftus. Van der Merwe sê hulle was baie teleurgesteld met die uitslag op Ellispark, maar glo hulle sal verbeter in Pretoria. As hulle ‘n bonuspunt-oorwinning behaal sal hulle die Suid-Afrikaanse Skild ‘n tweede agtereenvolgende seisoen wen.
# Motorsport: Die spanhoof van die Formule Een-kampioen McLaren, Andrea Stella, sê hulle begin die nuwe seisoen op die verdediging en vroeë aanduidings is dat Ferrari en Mercedes hul sterkste mededingers gaan wees. McLaren gaan probeer om hierdie seisoen sy derde agtereenvolgende vervaardigerstitel te wen, terwyl die Brit Lando Norris sy tweede agtereenvolgende bestuurderskampioenskap wil opraap. Stella sê hulle bring ’n paar geringe aërodinamiese veranderinge aan vir die eerste wedren, die Australiese Grand Prix, en gaan voort om aan belangrike kwessies soos betroubaarheid te werk.
# En tennis: 2023 se kampioen, Daniil Medvedev, het die derde keer deurgedring na die halfeindronde van die Dubaise Ope toe hy die Amerikaner Jenson Brooksby verslaan het. Die derde-gekeurde Rus speel teen die Kanadees Felix Auger-Aliassime, wat die agtste-gekeurde Tsjeg Jiri Lehecka geklop het. Nog ‘n Rus, Andrey Rublev, het sy onoorwonne rekord teen die Fransman Arthur Rinderknech behou. Hy kom nou te staan die Nederlander Tallon Griekspoor, wat weer in die voorlaaste ronde is nadat hy die sesde-gekeurde Tsjeg Jakub Mensik verslaan het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….