Nuus 06:00
BULLETIN 24 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die ontplooiing van die weermag is noodsaaklik
# Die DA waarsku teen verborge belastingverhogings voor Begroting 2026
# En die Spesiale Ondersoekeenheid ontbloot ‘n reuse-identiteitsbedrogskema
# President Cyril Ramaphosa het sy besluit verdedig om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Wes-Kaap, Gauteng en die Oos-Kaap te ontplooi omdat dit genoodsaak is deur die toename in gewelddadige georganiseerde misdaad. In sy weeklikse nuusbrief sê hy, gegewe die land se geskiedenis, moet die weermag nie sonder goeie rede ontplooi word om binnelandse bedreiging te hanteer nie. Ramaphosa sê die weermag sal ontplooi word ter ondersteuning van die polisie, onder polisiebevel, met duidelike reëls van betrokkenheid en vir spesifieke tydsbeperkte doelwitte.
# Die DA sê vanjaar se begroting moenie nuwe belastings instel nie, maar moet belastingkerwe met inflasie belyn om meer druk op huishoudings te verhoed. Die party wil ook hê die regering moet skuld beheer, reddingsboeie aan sukkelende staatsbeheerde maatskappye beëindig en verkwistende besteding verminder. Mark Burke van die DA sê die begroting moet klein besighede ondersteun, spaargewoontes aanmoedig en pogings versterk om onwettige handel te bestry, met ‘n duidelike verbintenis tot verantwoordelike finansiële bestuur.
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het, in samewerking met Interpol, ‘n groot identiteitsbedrogskema ontdek waarby buitelandse burgers betrokke is, deur Suid-Afrikaanse paspoorte en vlugtelingaansoeke te gebruik. Die waarnemende hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, Leonard Lekgetho, sê amptenare sweer saam om foto’s te vervang deur burgers se vingerafdrukke te gebruik. Lekgetho sê die ondersoek het ook DNS-manipulasie vir permanente verblyfpermitte ontbloot. Hy beveel strenger biometriese afdwinging aan asook strenger toegang tot kantore en samewerking tussen agentskappe om sulke bedrieglike praktyke te voorkom:
# Die munisipale vakbond, Samwu, belowe om voort te gaan om werkers te verdedig teen onbillike en gebrekkige dissiplinêre optrede. Dit volg na drie Arbeidshofuitsprake ten gunste van Samwu-lede nadat hulle deur die Stad Kaapstad ontslaan is. Die hof het bevind dat verskeie munisipale werknemers onbillik ontslaan is. Samwu verwerp arbitrêre en teenstrydige dissiplinêre maatreëls. Die streeksekretaris van die vakbond, Hlalanathi Gagayi, sê die uitsprake is ‘n duidelike boodskap dat onwettige optrede teen werkers nie bo die reg verhewe is nie:
# President Donald Trump sê enige land wat ‘speletjies speel’ met Amerika, na die Hooggeregshof-uitspraak, sal hoër tariewe betaal. Die hof het Vrydag beslis Trump het sy magte oorskry deur die Internasionale Wet op Noodekonomiese Magte te gebruik om verlede April omvattende wêreldwye tariewe in te stel. Hy het op die uitspraak gereageer deur ‘n nuwe tariefkoers van 15-persent op invoere uit alle lande aan te kondig. Trump sê lande wat Amerika dekades lank afgepers het, sal met ‘n baie hoër tarief te doen kry.
# Tennis: Die voormalige afrigter van die 23-malige Grand Slam-kampioen, Serena Williams, glo die Amerikaner beplan om na die sport terug te keer. Die 44-jarige het in 2022 uitgetree nadat sy haar laaste Grand Slam-titel in 2017 gewen het. Sy kan amptelik aan toernooie deelneem nadat sy verlede jaar weer by die sport se anti-opkikkersgroep aangesluit het. Voormalige afrigter Rick Macci glo Williams berei voor vir ‘n terugkeer en sê sy oefen saam met verskeie professionele spelers. Hy glo sy sal nie terugkom as sy gedink het sy kan nie met die bestes meeding en wedstryde wen nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-96-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-821-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-225-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….