Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 24 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Spesiale Ondersoekeenheid het permitbedrog van miljoene rand in Suid-Afrika se immigrasiestelsel ontbloot. Die koerant skryf grenspermitbedrog dui op sistemiese korrupsie en mislukkings met immigrasiebeheer.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n besoekende psigoterapeut en naturopaat van Duitsland, die 69-jarige Gary Firer, sê hy sal die land nooit weer besoek nie. Hy is op die toegangspad na die Kaapstadse lughawe met ‘n baksteen deur die motorvenster aangeval. Die egpaar besoek die land jaarliks die afgelope 21 jaar en sê hulle gaan nooit weer terugkeer nie.
Tweedens skryf die webblad altesaam 31 beskudigdes het gister in die hof verskyn nadat hulle na bewering 113-miljoen-rand by die Mpumalanga-onderwysdepartement gesteel het. Die groep bestaan uit amptenare, familielede en diensverskaffers wat saamgespan het.
En laastens is daar nuus oor die reën in die Noord-Kaap. Dis allerweë verwelkom en in sommige plekke is tot 103-millimeter aangeteken. Rosyntjieboere sê egter die reën veroorsaak groot probleme vir hulle.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Gautengse premier, Panyaza Lesufi het in sy provinsiale rede gesê dit gaan 760-miljoen-rand kos om die Stad Johannesburg se waterkrisis op te los.
En berig die inwoners van Tembisa het betoog oor die voortdurende kragonderbrekings wat in die township voorkom.
# Sowetan:
Berig ook oor Lesufi se rede. Die koerant skryf die premier het onderneem om munisipale diensprobleme aan te spreek en 250-duisend werksgeleenthede te skep.
# En The Citizen:
Lei met: “THREE MURDERED EVERY HOUR”. Die koerant skryf dis meestal jong mans wat vermoor word en volgens ontleders word daar net aandag gegee aan die moorde op vroue en boere.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei ook met die aanval op Gary Firer van Duitsland.
En tweedens is daar nuus oor ‘n voorskool in Durbanville wat vir ‘n paar dae gesluit is nadat een van die kinders meningokokkale meningitis opgedoen het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is ondersoek ingestel na die tenderproses en probleme met watervoorsiening in Makana. Die Spesiale Ondersoekeenheid is besig om die munisipaliteit te ondersoek vir bedrog met tenders.
En skryf ‘n weerwaarskuwing het die soeklig laat val op die tekortkomings in Nelson Mandelabaai se vermoë om oorstromings te hanteer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die Msunduzi-munisipaliteit het die MK-party van sabotasie van die stad se waterinfrastruktuur beskuldig na ‘n reeks wateronderbrekings wat in verskillende gebiede voorgekom het.
En tweedens word berig AARTO het nog ‘n terugslag beleef aangesien ‘n tekort aan fondse die verdere toepassing verhoed. Die koerant skryf daar word nou in die privaat sektor aangeklop vir geld.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig veediefstal in die Erongostreek het met 21-persent gestyg tussen 2024 en 2025, en die getal stuks grootvee wat as gesteel aangemeld is, het van 122 tot 167 toegeneem.
En tweedens skryf die koerant swaar neerslae wat die naweek landswyd uitgesak het, het tot ongelukke gelei, paaie verspoel, voertuie in riviere meegesleur en insittendes gestrand gelaat.