Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 20 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die farmaseutiese vervaardiger CIPLA het ‘n hofaansoek ingedien teen die toekenning van die regering se MIV/Vigs-tender. Die maatskappy voer aan dat hy onregverdig uitgesluit is uit die onderhandelinge.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf senior DA-amptenare steun die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, om John Steenhuisen as minister van Landbou te vervang na die party se federale kongres in April.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die voormalige Britse prins, Andrew Mountbatten-Windsor is ná 12 ure in aanhouding deur die polisie vrygelaat. Hy is in hegtenis geneem op aanklagte dat hy vertroulike staatsinligting aan die veroordeelde seksmisdadiger, Jeffrey Epstein gestuur het.
Tweedens skryf die webblad die DA wil ondersoek instel na die aanstelling van die Parlement se nuwe hoof finansiële beampte, Nceba Mqoqi. Hy is glo ‘n goeie vriend van die Parlement se omstrede sekretaris, Xolile George.
En laastens is daar nuus oor sowat 200 mense wat Woensdagaand by die boonste stasie op Tafelberg gestrand was nadat die kabelkar wat hulle na onder moes neem onklaar geraak het. Hulle het komberse en verversings ontvang en teen half-een gisteroggend van die berg af gebring.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig die seun van wyle president Robert Mugabe van Zimbabwe, Bellarmine is gister by sy huis in Sandton in hegtenis geneem nadat ‘n tuinier na bewering geskiet en gewond is.
# En The Citizen:
Skryf verkeerde sakebesluite waardeur Tongaat Hulett 12-miljard-rand verloor het, was die begin van die suikerreus se ondergang. Indien die maatskappy nou gelikwideer word, sal duisende se lewensbestaan daardeur geraak word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die moord op ‘n Moslem-leier en uitlêer van Islam-leerstellinge, die 33-jarige Mustaqeem Wanza op die eerste dag van die maand van Ramadaan. Hy is buite ‘n moskee in Lentegeur, Mitchells Plain doodgeskiet.
En tweedens skryf die koerant ook oor die toeriste wat op Tafelberg vasgekeer was.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die voormalige streeksekretaris van die ANC in Nelson Mandelabaai, Luyolo Nqakula dagvaar die staat vir 20-miljoen-rand. Hy beweer daar is jare lank vals klagtes teen hom aanhangig gemaak.
En tweedens skryf die koerant oor die negatiewe uitwerking van bek-en-klouseer in die Oos-Kaap.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die beskuldigdes in ‘n Grindr-afpersingsaak gaan in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn.
En berig die polisie het ‘n roofbende in hegtenis geneem.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Bank of Namibia sê hoewel probleme met die terugbetaling van huislenings afgeneem het, is daar sommige huishoudings in Windhoek wat steeds uitdagings ondervind om huislenings terug te betaal met hoë lewenskoste en ander uitgawes wat druk op begrotings plaas.
En tweedens skryf die koerant die uitwerking van die staking by Namib Mills word reeds deur die maatskappy gevoel en verdere afleggings is nie uitgesluit nie. Die staking duur reeds 50 dae.