Nuus 06:00
BULLETIN 20 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging word hersien
# Koning Charles die Derde sê die wet moet sy verloop neem
# En rugby: ‘n Plek onder die top-agt in die Verenigde Rugbykampioenskap is môre op Ellispark beskikbaar
# President Cyril Ramaphosa sê die regering hersien die raamwerk vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging om dit meer doeltreffend te maak vir die bevordering van inklusiewe groei. Die doel is om meer geleenthede vir swartnywerhede en -vrouebestuurders te skep, ongelykheid te verminder en te verseker dat meer Suid-Afrikaners voordeel trek uit ekonomiese groei. Ramaphosa het tydens die debat oor die staatsrede gesê die hersiening sal help om ekonomiese insluiting te versterk en volhoubare groei te ondersteun:
Ramaphosa het voorts alle Suid-Afrikaners versoek om saam te werk om armoede en werkloosheid te beveg. Ramaphosa sê die regering het vordering gemaak om die ekonomie te bestendig, beurtkrag te beëindig en werk vir jongmense te skep. Hy het egter erken dat miljoene mense steeds werkloos is en in armoede leef:
# Die geskorste adjunk- nasionale kommissaris van Polisie, Shadrack Sibiya het aan die Madlanga-kommissie in Pretoria gesê hy het nooit enige omkoopgeld van die vermeende misdaadbaas Vusimuzi “Cat” Matlala ontvang nie. Sibiya sê hy het Matlala verskeie kere ontmoet, maar het volgehou hulle was nie vriende nie en dat hy nooit enige omkoopgeld of voordele aanvaar het nie. Hy het alle korrupsiebewerings ontken en gesê enige ander aannames is vals:
# Die staat het talle teenstrydighede in die getuienis van die selferkende moordenaar Amber Lee Hughes uitgewys. Die 26-jarige is in Augustus verlede jaar skuldig bevind aan die seksuele aanranding en verdrinking van haar voormalige lewensmaat, Elie Challita se vierjarige dogter, Nada Jane Challita. Tydens kruisondervraging in die Hooggeregshof in Johannesburg het staatsaanklaer Rolene Barnard daarop gewys dat boodskappe wat Hughes aan Challita gestuur het, haar getuienis oor beweerde mishandeling in die verhouding weerspreek. Die verdediging sal Hughes vandag weer ondervra.
# Koning Charles die Derde het sy diepste kommer uitspreek na die inhegtenisneming van sy jonger broer, maar beklemtoon dat die reg sy gang moet gaan. Andrew Mountbatten-Windsor is in hegtenis geneem onder verdenking van wangedrag in ‘n openbare amp. Die polisie het voorheen bewerings ondersoek dat ‘n vrou deur Jeffrey Epstein na Brittanje gebring is vir ‘n seksuele ontmoeting met die voormalige prins, en bewerings dat hy sensitiewe inligting met Epstein gedeel het terwyl hy as handelsgesant gedien het. Prokureurs vir Epstein se slagoffers het intussen gesê die arrestasie sal mense weer laat glo dat geregtigheid kan geskied.
# Rugby: ‘n Plek onder die top-agt in die Verenigde Rugbykampioenskap is op die spel wanneer die Leeus more teen die Haaie in Johannesburg speel. Die Haaie is tans negende op die punteleer en die Leeus tiende. ‘n Oorwinning vir die besoekers sal beteken hul sal die skild vir Suid-Afrikaanse spanne verower in die kompetisie met een plaaslike derby wat oorbly, terwyl die Leeus die ses punte tussen die spanne sal verminder en in die kompetisie sal bly as hulle wen. Die Stormers, wat derde op die VRK-punteleer is en die Bulle wat sewende is, speel nie hierdie naweek nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-739-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-999-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 71-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….