Nuus 06:00
BULLETIN 17 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê onwettige handel vernietig wettige vervaardigingsmarkte
# SEIFSA is bekommerd oor die Mededingingskommissie se klopjag op vier staalmaatskappye
# En rugby: Rassie Erasmus verwelkom die ekstra toets teen die Wallabies in Australië
# Business Leadership South Africa sê onwettige handel benadeel plaaslike vervaardigers en bedreig werksgeleenthede. Hoewel elektrisiteitshervormings uitgeklaar is, word fabrieke gesluit weens goedkoop invoere en swak wetstoepassing. In haar weeklikse nuusbrief versoek die uitvoerende hoof van BLSA, Busisiwe Mavuso, die regering om beleide oor elektriese voertuie te finaliseer, reëls teen storting af te dwing, tariewe te hersien en handelsdiplomasie te verbeter. Mavuso sê onmiddellike, gekoördineerde optrede tussen die regering en die sakewêreld is noodsaaklik om werksgeleenthede en ekonomiese groei te beskerm.
# Die landbou-organisasie TLU SA sê dringende optrede is nodig om die verspreiding van bek-en-klouseer te stop en die landbousektor te beskerm. Die organisasie is ten volle betrokke by die bek-en-klouseerbedryf se koördineringsraad om boere se belange te beskerm en te verseker dat vee-inentings vinnig uitgerol word. Bennie van Zyl van TLU SA sê regeringsburokrasie en vertragings belemmer inentingspogings en plaas boere, voedselsekerheid en die ekonomie in gevaar:
# Die Staal- en Ingenieursbedryffederasie van Suider-Afrika het kommer uitgespreek oor die Mededingingskommissie se onlangse klopjag op vier staalproduksiemaatskappye. Die vier skrootmetaal-aankoopmaatskappye is in Germiston, Nigel, Vanderbijlpark en Hammanskraal. Die maatskappye was na bewering betrokke by die vasstelling van die aankoopprys van versnipperde of verwerkte skrootmetaal. SEIFSA hy is bekommerd oor die moontlike ontwrigting wat sulke prosesse reg oor die sektor kan veroorsaak, en beklemtoon dat hulle nie teen-mededingende gedrag goedkeur nie.
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, het kommer uitgespreek oor die moontlike likwidasie van Tongaat Hulett en waarsku dit kan landelike gemeenskappe en plaaslike regeringsfinansies beskadig. Senzelwe Mzila van die Departement waarsku dat die ineenstorting van die 134 jaar oue suikerprodusent duisende landelike werksgeleenthede bedreig en ernstige druk op plaaslike munisipaliteite sal plaas wat staatmaak op inkomste wat verbind word met die maatskappy en sy verskaffers:
# Die internasionale regsfirma Herbert Smith Freehills Kramer sê samesmeltings- en verkrygingsaktiwiteite in Afrika sal na verwagting vanjaar sterk bly ten spyte van wêreldwye ekonomiese onsekerheid. Die firma se jongste verslag toon dat transaksiewaardes verlede jaar aansienlik gestyg het, met uitgaande Afrika-transaksies 85-persent hoër. Suid-Afrika bly die toonaangewende spilpunt op die vasteland vir samesmeltings en verkrygings, en is verantwoordelik vir die grootste deel van die transaksiewaarde. Die firma sê beleggersvertroue bly sterk, veral in sektore soos energie, finansies en verbruikersgoedere.
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die eenmalige toets teen die Wallabies in Australië in September sal spelers die kans gee om meer toetswedstryde te speel ter voorbereiding van volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in die land. Die wedstryd om die Mandela-trofee sal op 27 September in Perth gespeel word. Erasmus sê hoewel dit bydra tot ‘n kalender wat reeds vol is, insluitend die nuwe Nasieskampioenskap en die All Blacks se toer na Suid-Afrika, beplan hulle ook ‘n opwarmingswedstryd teen die Barbarians voor die begin van die toetsseisoen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-610-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-993-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….