Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 17 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die sakegemeeenskap is tevrede met die duidelike stappe oor kragvoorsiening wat deur die regering uitgestippel is, maar is steeds bekommerd oor ‘n vervaardigingskrisis. Daar is ‘n afname in vervaardiging en geen reaksie op handelsmededinging nie. Veral die motorbedryf het in die jongste tyd deurgeloop.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die seun van die een van die sogenaamde Cradock 4, Lukhanyo Calata sê die ANC-regering het die familie in die steek gelaat. Dit gaan oor die regering se gebrek aan vervolging in WVK-sake. Calata sê al die veiligheidspolisiemanne wat sy pa, Fort, vermoor het is intussen oorlede. Hulle moes in 2004 vervolg word.
Dan skryf die blad oor die waterkrisis, ‘n onderwerp waaraan ook in Die Burger volledige aandag geskenk word.
En laastens is daar nuus oor die afsterwe van die veteraan-akteur Robert Duvall wat Sondag op 95 oorlede is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die vierde verdagte in die moordsaak van die Bolt-bestuurder, Isaac Satlat, het hom aan die polisie in Atteridgeville, Pretoria, oorgegee. Dit volg op die inhegtenisneming van nog drie verdagtes wat reeds in die hof verskyn het. Die voorval het op 11 Februarie plaasgevind en hernude oproepe laat opgaan vir die veiligheid van e-taxi-bestuurders.
En tweedens word berig oudpresident Jacob Zuma wil ‘n jeug-alliansie stig waarby hy die EFF en ATM betrek.
# Sowetan:
Lei met: “EKURHULENI CLEAN UP BEGINS”. Die koerant skryf nagenoeg drie-duisend-500 metropolisiebeamptes gaan gekeur word as ‘n regstreekse gevolg van die onthullings wat voor die Madlanga-kommissie aan die lig gekom het.
# En The Citizen:
Skryf oor Gauteng se jongste planne om waterverdeling toe te pas. Die DA sê die probleem word nie opgelos nie, die beskikbare voorraad wod net rondgeskuif en die VF+ sê 13-persent van die water is ongeskik vir menslike gebruik.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die waterkrisis in die land. Die waterkenner, professor Anthony Turton is van mening die stappe wat president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het, is te min te laat. Hy sê dit was in 2002 al duidelik dat Suid-Afrika waterbeperkings nodig het om toevoer te bestuur.
En tweedens skryf die koerant die 75-jarige Johann Scholtz en 52-jarige Gerda Tait van Oudtshoorn bly in aanhouding nadat hulle na bewering straatkinders wat ‘n ander straatkind beroof het, aangerand het. ‘n Derde persoon is ook intussen in hegtenis geneem.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig daar is groeiende versoeke van gemeenskapsorganisasies wat wil hê die weermag moet ook in Nelson Mandelabaai ontplooi word om die bendegeweld en misdaad te bekamp.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n leerkrag wat na bewering gunslone ontvang het om leerders se punte te wysig.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die uMngeni Munisipaliteit het ‘n tariefkorting aangekondig vir boere wat deur bek-en-klouseer geraak word. Hierdie korting is daarop gemik om finansiële verligting te bied aan boere, veral suiwelboere, wat deur die uitbreking geraak is.
En tweedens berig die koerant oor planne om Tongaat/Hulett te red.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig vyf nuwe myne wat op onder meer goud, koper en uraan fokus, sal moontlik binne die volgende drie tot vyf jaar in in Namibië in bedryf gestel word. Dit kan die BBP met 13,3-persent versterk.
En tweedens is daar nuus oor Namibië en die wêreld se gunsteling-bobbejaan, Cindy, se nalatenskap wat voortleef in ‘n veilige hawe vir wees- en beseerde bababobbejane.