Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 16 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig een van Suid-Afrika se grootste vaste-inkomstebeleggers, Futuregrowth, sê hy ondersteun president Cyril Ramaphosa se verbintenis om ‘n volledig onafhanklike netwerkoperateur vir Eskom te vestig.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ‘n deel van die losprys wat vir ‘n ontvoerde Matiestudent betaal is, is aan die staat verbeurd verklaar. Die student wie se naam nie genoem mag word nie, is op 2 Oktober 2024 ontvoer en 89-duisend-rand van die losprys van 200-duisend-rand is deur haar ontvoerders onttrek.
Dan skryf die webblad president Ramaphosa het sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan bestendigheid op die Afrika-vasteland. Hy het deelgeneem aan ’n Afrika Unie-beraad in Ethiopië.
En laastens word berig die huldeblyke stroom in vir die 62-jarige Springbok Wessel Lightfoot wat aan kanker oorlede is.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf regter Mandla Mbongwe het in die Hooggeregshof in Pretoria beslis dat die omstrede diamanthandelaar, Louis Liebenberg wel ‘n evaluasie by die Weskoppies-hospitaal moet ondergaan. Liebenberg is tans 41ste op die waglys.
En tweedens word berig die grap wat die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina oor Suid-Afrika se waterkrisis gemaak het, ontvang fel kritiek uit die gemeenskap.
# Sowetan:
Berig ‘n nuwe goudstormloop is ontketen deur die inwoners van die Gugulethu-nedersetting in Springs nadat hulle beweer het hulle het goud ontdek in ‘n beeskraal waar voorheen ‘n mynhoop was.
# En The Citizen:
Skryf terwyl Ramaphosa diegene vervolg wat bydra tot die waterkrisis, is dit net ANC-munisipaliteite wat die krisis aanhelp, want in die DA-beheerde munisipaliteite is daar nie waterprobleme nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die inentingsplanne wat vir bek-en-klouseer in werking gestel is met die goedkeuring van die invoer van entstof deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad. Die minister van Landbou, John Steenhuisen sê die nuwe strategie sal verseker dat die siekte nie weer die land se veebedryf lamlê nie.
En tweedens skryf die koerant uiters warm weersomstandighede en ‘n brandgevaar word vir die Wes-Kaap voorspel.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Makhanda gaan gebuk onder ernstige watertekorte as gevolg van die infrastruktuur wat in duie stort en vandalisme. Daar heers ook ‘n droogte in die gebied en waterbeperkings is ingestel.
En tweedens skryf die koerant oor die Herald-fietstoer wat met groot sukses aangebied is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf oor die doodsnikke van Tongaat/Hulett vanweë die uiters haglike omstandighede waarin die suikerbedryf hom bevind.
En tweedens word berig misdaadbendes teister die bejaarde inwoners van Howick
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië se hoofveearts, dokter Kenneth Kennedy Shoombe, is as ‘bevelvoerder’ in die stryd teen bek-en-klouseer aangewys.
En tweedens skryf die koerant ‘n boervrou van Gamsberg sê dit was soos cowboys en crooks toe twee vermeende beesslagters deur ‘n Kupferberg-padblokkade agterna gesit en vasgetrek is.