Nuus 06:00
BULLETIN 16 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê Afrika moet ‘n nuwe kolonialisme vermy
# Zambië skort vee-invoere op oor bek-en-klouseer
# En rugby: Die Bok-vrouesewespan eindig tweede in Nairobi
# President Cyril Ramaphosa het Afrika versoek om met een stem op vinnige geopolitieke veranderinge te reageer. Hy was aan die woord tydens die Afrika-Unie-beraad in Addis Abeba, Ethiopië, wat gister geëindig het. Ramaphosa het gesê wêreldargitektuur wat volgens reëls bestuur is het in ‘n sekere sin ineengestort. Hy vra Afrika om ‘n nuwe vorm van kolonialisme te vermy, waar groot ekonomieë die vasteland se kritieke minerale wil vat:
# Die Zambiese regering het alle vee-invoere uit Suid-Afrika opgeskort na die uitbreking van bek-en-klouseer. Die Ministerie van Visserye en Lewende Hawe sê alle permitte vir gespletehoef-diere, verwante produkte en vervoer is met onmiddellike ingang herroep. Owerhede beskryf die stap as ‘n voorsorgmaatreël om Zambië se veebedryf en voedselsekerheid te beskerm, met maatreëls wat hersien sal word namate die uitbreking ontwikkel.
# WaterCAN sê Suid-Afrika se Nasionale Waterkrisiskomitee moet duidelike, uitvoerbare planne instel om die voortdurende waternood aan te pak en dit moenie net praatjies wees nie. WaterCAN se uitvoerende hoof, Ferrial Adam, verwelkom die erkenning wat aan die krisis gegee word, maar sê die komitee benodig streng sperdatums, deursigtigheid en betrokkenheid deur die burgerlike samelewing om werklike oplossings en aanspreeklikheid vir waterleweringsmislukkings te verseker:
# Die Gautengse LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê die grasietydperk vir bedryfslisensies is ingestel sodat leerdervervoeroperateurs wat tans sonder geldige permitte werk, hul dienste wettig kan aanbied. Die LUR het beklemtoon die fokus bly op leerderveiligheid en -nakoming en vra operateurs om aansoek te doen vir geldige lisensies, sodat hulle kan voortgaan om leerders te vervoer. Sy beklemtoon veiligheid en regsnakoming moet hand aan hand gaan:
# Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het ‘n afname in skoolvandalisme en -diefstal tydens die 2025/26 somervakansie verwelkom. Die LUR vir Onderwys, David Maynier, sê 36 voorvalle is by 32 skole aangemeld, minder as die 47 gevalle die vorige jaar. Maynier het gesubsidieerde sekuriteit by 441 skole bevestig wat saam met die SAPD werk vir beter monitering. Hy waarsku dat gesteelde items noodsaaklike onderwysfondse herlei en vra gemeenskappe om verdagte aktiwiteite aan te meld:
# Rugby: Die Springbok-vrouesewes het Argentinië met 17-12 verslaan om tweede te eindig in die openingstoernooi van die Wêreldsewes 2-reeks in Nairobi, Kenia. Suid-Afrika se oorwinning oor Argentinië volg na ‘n oortuigende 33-5 bonuspunt-oorwinning oor China in hul openingswedstryd gister. Ten spyte van die nederlaag het Argentinië die toernooi bo-aan die leer met 13 punte afgesluit; die Bok-vroue was tweede met 12, en Spanje derde met elf punte. Die Bok-vroue sal nou hul aandag vestig op die laaste twee dele, in Uruguay en Brasilië, volgende maand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-90-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-916-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-42-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….