Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 13 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Die onderskatte Zimbabwe het die magtige Australië met 23 lopies verslaan in hulle T20-Wêreldbeker-groepwedstryd in Colombo, Sri Lanka. Die Afrika-land het ‘n verdedigbare 169 vir twee aangeteken danksy Brian Bennett se onoorwonne 64. Australië se eerste paaltjie het geval met die totaal op 13 en nog drie kolwers het vertrek teen die tyd dat hulle 29 bereik het. Glenn Maxwell en Matt Renshaw het teruggeveg met ‘n vennootskap van 77 lopies om die vyfde paaltjie, maar Australië is vir 146 uitgeboul nadat Blessing Muzarabani vier paaltjies geneem het.
Afganistan se veelsydige speler, Mohammad Nabi, is intussen gestraf vir verontagsaming van die skeidsregters se opdrag tydens Woensdag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Suid-Afrika in Ahmedabad, Indië. Hy het gekla dat die snelbouler Lungi Ngidi se armband sy aandag aftrek en dat hy nie die bal behoorlik kan sien nie. Nabi is met 15-persent van sy wedstrydfooi beboet en ‘n strafpunt gegee vir sy uitgerekte stryery, hoewel Ngidi aangesê is om sy armband van sy boularm af te haal. Die Proteas het die wedstryd in die tweede super-boulbeurt gewen.
# Tennis: Suid-Afrika kom die eerste keer in ses jaar teen Bosnië en Herzegowina te staan in hulle Davisbeker-Wêreldgroep Twee tuiswedstryde in September. Die span het hul plek in die groep behou nadat hulle Montenegro verlede week in Centurion 3-2 geklop het. Kaptein Pietie Norval sê hulle is vol vertroue dat die tuisskare en plaaslike toestande tot sukses sal bydra wanneer hulle meeding vir ‘n plek in 2027 se Wêreldgroep Een-promosie-uitspeelwedstryde.
# Rugby: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, het ses veranderings aangebring vir môre se Sesnasies-wedstryd teen Italië in Dublin wanneer hulle gaan probeer terugslaan na die nederlaag van 36-14 teen Frankryk. Twee spelers van Ulster, Robert Baloucoune en Cormac Izuchukwu, sal hul Sesnasies-buiging maak. Die vleuel James Lowe is teruggeroep en Craig Casey is die skrumskakel. James Ryan en Joe McCarthy is die slotte met Edwin Edogbo wat sy toetsbuiging kan maak nadat hy op die bank gekies is.
Laastens, nog Sesnasiesnuus is die Skotse senter Huw Jones sê sy span is gereed om beter te speel nadat hulle in vanjaar se eerste naweek teen Italië verloor het. Die span verwelkom Engeland môre in die Skotse hoofstad, Edinburgh. Engeland het hul laaste twee wedstryde teen Skotland op Murrayfield verloor, terwyl die Skotte in hul laaste agt kragmetings oor hul geswore vyand geseëvier het. Jones besef Engeland word as die gunsteling beskou nadat hulle hulle laaste 12 wedstryde gewen het, maar sê die span wil nou hul frustrasie op die besoekers uithaal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….