Nuus 13:00
BULLETIN 13 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Hlabisa bevestig munisipaliteite behou gesag ondanks die waterkrisiskomitee
# Die GOOD-party sê die eerste tekens van ekonomiese groei verander nie die lewens van sukkelende burgers nie
# En krieket: Zimbabwe skok die magtige Australië in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê munisipaliteite sal nie hul gesag oor watersake verloor nie, ondanks die stigting van ‘n nasionale waterkrisiskomitee onder voorsitterskap van president Cyril Ramaphosa. Hlabisa beskryf die watersituasie as ‘n nasionale krisis wat dringende ingryping vereis. Hy sê die komitee sal sukkelende metro’s met vaardighede en hulpbronne ondersteun. Hy sê ook 55-miljard-rand is toegeken aan infrastruktuur, instandhouding en noodreaksie-pogings:
Die GOOD-party sê intussen die eerste tekens van groei in die ekonomie is ‘n bevestiging dat die regering van nasionale eenheid vordering maak. Ramaphosa het die groei van die ekonomie in sy staatsrede benadruk, veral die poging om die nasionale skuld bestendig te maak. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê dit het egter nie die lewens verander van mense wat sonder werk, kos of huise is nie:
# Die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, veroordeel ‘n lid van die MK-party wat volgens berigte ʼn senior amptenaar van die Batebeslagleggingseenheid in Pretoria gedreig het. In ʼn video op sosiale media word gesien hoe die man die amptenaar dreig en probeer intimideer. Die eenheid se woordvoerder, Bulelwa Makeke, sê die dreigemente hou verband met twee bewaringsbevele van 4,1-miljoen-rand teen die Growsave-stokvel:
Nuus uit die buiteland:
# Bangladesj se Nasionalistiese Party het die land se eerste parlementêre verkiesing gewen sedert die opstand van 2024 waartydens die langsdienende premier, Sheikh Hasina, uit die kussings gelig is. Die party van Tarique Rahman het ‘n tweederde-meerderheid behaal. Die verkiesing was ‘n tweestryd tussen die BNP en ‘n alliansie van elf partye gelei deur die Islamitiese Jamaat-e-Islami, wat beweer het daar was onreëlmatighede in die stemtelling. Rahman, wat in Desember na Bangladesj teruggekeer het na 17-jaar van ballingskap in Londen, is nou gereed om eerste minister te word.
# Krieket: Die onderskatte Zimbabwe het die magtige Australië met 23 lopies verslaan in hulle T20-Wêreldbeker-groepwedstryd in Colombo, Sri Lanka. Die Afrika-land het ‘n verdedigbare 169 vir twee aangeteken danksy Brian Bennett se onoorwonne 64. Australië se eerste paaltjie het geval met die totaal op 13 en nog drie kolwers het vertrek teen die tyd dat hulle 29 bereik het. Glenn Maxwell en Matt Renshaw het teruggeveg met ‘n vennootskap van 77 lopies om die vyfde paaltjie, maar Australië is vir 146 uitgeboul nadat Blessing Muzarabani vier paaltjies geneem het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-715-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-976-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….