Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 13 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Is die eerste van talle koerante wat oor president Cyril Ramaphosa se staatsrede gisteraand verslag doen. Die koerant skryf Ramaphosa sê handelsverdeling in die wêreldekonomie geniet die regering se aandag, aangesien die land sy ekonomie wil versterk. Volgens Ramaphosa is tariefhervorming in die stadium belangrik.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Berig ook volledig oor die hoogtepunte van Ramaphosa se toespraak en publiseer die volledige teks van die staatsrede.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook volledig oor Ramaphosa se staatsrede. Die webwerf publiseer ‘n uiteensetting van die tien belangrikste punte wat in die toespraak vervat is. Daar word veral gefokus op die ontplooiing van die weermag na die Wes-Kaap en Gauteng om die polisie by te staan, die waterkomitee wat gestig gaan word, en die leefstyloudits vir senior polisiebeamptes.
En tweedens skryf die koerant politieke partye het die toespraak positief ervaar, maar daar is steeds talle vrae.
GAUTENG:
# The Star:
Berig ook volledig oor die staatsrede en het ‘n uitgebreide fotobeeld van al die modes op die rooi tapyt. Party van die parlementariërs en hul vrouens het uitgehang, maar vir sommige lede was dit net nog ‘n sitting. Die koerant vra of minder werklik beter is.
# Sowetan:
Fokus op Ramaphosa se aankondiging dat die weermag teen onwettige mynbedrywighede en bendegeweld ontplooi gaan word en verwys ook na die president se waterkomitee waar hy self as voorsitter gaan optree.
# En The Citizen:
Skryf die waterkrisis in Gauteng kan die ANC se swanesang in die provinsie wees.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die staatsrede.
En tweedens skryf die koerant wyle president Nelson Mandela se meubels is inderhaas aangery na die Drakenstein-gevangenis vir ‘n besoek deur Ramaphosa. En daarna weer verwyder.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig geweld het op die kampus van die Nelson Mandela-universiteit uitgebreek toe studente oor huisvesting, registrasie en vervoer betoog het. Die polisie moes intree met rubberkoeëls.
Tweedens skryf die koerant met die Groot-Visrivier in vloed is daar op verskeie Karoo-plase skade aangerig.
Laastens is daar ook berigte oor en reaksie op die staatsrede.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf eerstens ook oor die staatsrede.
En tweedens het die koerant berigte oor die opruiming van sekswerkers in Pietermaritzburg en die IVP wat ‘n wyksraadslidverkiesing gewen het.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig met die veediefstal en dwelmsmokkelary wat hoogty vier in Aranos, het boere en die gemeenskap ’n klagskrif en lys van 18 saaknommers van onopgeloste sake aan die Namibiese polisiehoof oorhandig.
En tweedens is daar nuus oor Ronel Peters van die Ruach Elohim-stigting waar ‘n bababoks bedryf word. Die organisasie het sedert 2018 altesaam 49 weggooibabas se lewens gered.
s]q