Nuus 06:00
BULLETIN 13 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê regeringsoptrede word gedryf deur ‘n behoefte aan vinnige en inklusiewe ekonomiese groei
# Die Weerdiens waarsku teen rowwe seetoestande met sikloon Gezani wat Mosambiek nader
# En krieket: Die Proteas verdedig Rabada na sy laaste nagmerrie-boulbeurt teen Afghanistan
# President Cyril Ramaphosa sê die ekonomie groei steeds, die land se kredietgradering het verbeter, en daar is ‘n duidelike plan om nasionale skuld te bestendig. Hy het gisteraand die staatsrede in Kaapstad gelewer. Suid-Afrika het die afgelope jaar vier agtereenvolgende kwartale van groei in bruto binnelandse produk aangeteken. Ramaphosa sê regeringsoptrede word nou gedryf deur die behoefte aan vinnige en inklusiewe ekonomiese groei om meer werksgeleenthede te skep:
Ramaphosa sê ook hy gaan ‘n Nasionale Waterkrisiskomitee stig, en as voorsitter optree, om die land se wateruitdagings aan te pak. Dele van Gauteng ervaar watertekorte, wat tot ‘n aantal betogings gelei het. Die regering het 156-miljard-rand in openbare befondsing oor die volgende drie jaar bewillig vir water, sanitasie en infrastruktuur. Ramaphosa het aangekondig dat die regering in die finale fase is om ‘n nasionale agentskap vir waterhulpbroninfrastruktuur te stig:
# Die Hooggeregshof in Johannesburg het tenderpreneur Vusi “Cat” Matlala toestemming gegee om met sy prokureurs by die Kgosi Mampuru C-Max-gevangenis in Tshwane voor sy voorverhoor te konsulteer. Matlala, wat teregstaan op 25 ernstige aanklagte, insluitend 11 aanklagte van poging tot moord, het saam met sy vrou, Tsakane en drie medebeskuldigdes in die hof verskyn. Die hof het Korrektiewe Dienste gelas om ‘n ruimte vir privaat, onbeperkte gesprekke te voorsien. Die voorverhoor is uitgestel en sal na verwagting op 26 Februarie voortgaan.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, doen ‘n beroep op inwoners om water te bespaar, lekkasies te herstel, gebarste pype aan te meld en waterbeperkings te eerbiedig. Dit is in ‘n poging om watervoorrade vir huishoudings, besighede en boere te beskerm. Bredell het Stellenbosch, Beaufort-Wes, Laingsburg en Prins Albert besoek om watersekerheid te midde van voortdurende droogtetoestande te evalueer. Stellenbosch se Idasvallei-dam is 30-persent vol, terwyl Beaufort-Wes se Gamka-dam, waar fase-vier waterbeperkings van volgende maand af ingestel word, op slegs 14-persent staan.
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê tropiese sikloon Gezani versterk in die Mosambiek-kanaal en kan baie rowwe seetoestande naby die Mosambiekse kus veroorsaak. Daar is egter tans geen direkte bedreiging vir Suid-Afrika nie. Sterk winde en hoë golwe word van vandag af verwag, met golfhoogtes wat moontlik bo vier meter kan styg en selfs tien meter kan bereik. Senior weervoorspeller, Lauren Smith sê swaar reën kan ook die kusgebiede van Mosambiek beïnvloed:
# Krieket: Spanmaats het snelbouler Kagiso Rabada verdedig na sy nagmerrie-boulbeurt wat die Proteas byna die oorwinning in Woensdag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Afghanistan gekos het. Hulle teenstanders moes 13 lopies van die laaste boulbeurt aanteken en Rabada het hulle laaste paaltjie met die eerste bal geneem, maar dit was ‘n foutbal. Hy het later nog ‘n foutbal afgestaan, maar toe vir Fazalhaq Farooqi uitgehardloop om ‘n superboulbeurt af te dwing. ‘n Verdere boulbeurt was nodig vir Suid-Afrika om te wen. Ryan Rickelton sê dit was ‘n enkele swak boulbeurt in Rabada se andersins uitstekende loopbaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-211-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-921-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….