Nuus 06:00
BULLETIN 11 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bevestig sy steun vir ‘n diplomatieke oplossing vir die Rusland-Oekraïne-konflik
# Die Lughawemaatskappy het ‘n rekordfeestyd gehad
# En rugby: ‘n Ervare Bok-vrouespan neem die naweek deel aan die sewestoernooi in Kenia
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika ondersteun steeds ‘n diplomatieke oplossing vir die konflik tussen Rusland en Oekraïne. In ‘n telefoniese gesprek met die Russiese president Vladimir Putin het Ramaphosa herhaal dat alle oorloë deur onderhandelinge moet eindig. Die woordvoerder in die Presidensie, Vincent Magwenya sê die twee leiers het ook handel, beleggings en samewerking in internasionale forums soos BRICS en die G20 bespreek:
# Die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, het aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê president Cyril Ramaphosa het in 1997 ‘n kort kursus wat hy oor die Handves van Regte aangebied het, bygewoon. Komiteelede het O’Sullivan uitgedaag en opgemerk hy beskik oor geen akademiese kwalifikasie om opleiding oor die Grondwet aan te bied nie. O’Sullivan het verduidelik die sessies het nie op die volledige Grondwet gefokus nie, en sê Ramaphosa het die opleiding onderskryf al het hy gehelp om die Handves van Regte op te stel:
# Die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika sê hulle het hul beste vakansieseisoen ooit beleef, met meer as 4,6-miljoen passasiers wat in Desember en Januarie deur hul lughawens beweeg het. Dit verteenwoordig ‘n herstel van 98-persent tot die vlakke voor die pandemie en dui op ‘n jaar-tot-jaar-toename van agt-persent in totale verkeer. Twee lughawens in die netwerk het rekord-passasiersgetalle vir 2025 aangeteken, naamlik Kaapstad Internasionale Lughawe en George Lughawe. ACSA sê hierdie sterk herstel is aangedryf deur die herstel van belangrike internasionale roetes, nuwe lugrederye en verhoogde vlugfrekwensies.
# Die burgerlike-samelewingsgroep WaterCAN het die regering versoek om die waterkrisis in Johannesburg tot ‘n nasionale ramp te verklaar en gesê inwoners leef in werklikheid onder Dag Zero-omstandighede. Johannesburg Water se sentrale stelsel bly beperk weens swak waterinvloei en verhoogde vraag. Dit het daartoe gelei dat verskeie reservoirs, insluitend Alexanderpark, Berea en Crown Gardens, beperkte of geen watervoorraad het nie. WaterCAN sê om Johannesburg, die ekonomiese hart van Suid-Afrika, toe te laat om sonder betroubare watervoorsiening te funksioneer, dui op ‘n regeringsmislukking.
# President Donald Trump dreig om die opening van die Gordie Howe Internasionale Brug tussen die VSA en Kanada te stop totdat Washington “ten volle vergoed word vir alles” wat hy aan sy noordelike buurland gegee het. Hy blameer ook voormalige president Barack Obama dat hy konstruksie toegelaat het sonder die gebruik van Amerikaanse staal. Volgens die projek se webwerf word die brug deur die Kanadese regering befonds, maar sal gesamentlik deur Kanada en Michigan besit word. Die projek is al meer as ‘n dekade lank ‘n twispunt tussen die lande.
# Rugby: Afrigter Cecil Afrika het die beproefde kern van die Springbok-vrouespelers behou vir die naweek se Sewes-Twee-toernooi in Kenia. Tien van die spelers was in die groep wat verlede maand die Sewes-Drie-toernooi in Dubai gewen het, wat hulle na die volgende kwalifiserende fase laat vorder het. Die blitsvinnige Shannon-Lee Windvogel kan haar debuut in Nairobi maak in die plek van die beseerde Vianca Boer, terwyl Lerato Makua oorneem by Zintle Mpupha, wat diens doen by die Bulle se Daisies. Die ervare Nadine Roos sal die groep lei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-647-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-27-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….