Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 11 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die beleggingsmaatskappy Harith het FlySafair gekoop nadat hy twee jaar gelede onttrek het aan ‘n transaksie om ‘n meerderheidsaandeel in die Suid-Afrikaanse Lugdiens te koop.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig die polisiekommissaris in KwaZulu-Natal, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, die nasionale polisiekommissaris, generaal Fannie Masemola en die misdaadintelligensiehoof, luitenant-generaal Dumisani Khumalo, hoort almal agter tralies. Hy het gesê hy het self ondersoeke gedoen wat daarop dui dat die drie strafregtelik vervolg moet word.
Tweedens skryf die webblad die Gautengse regering het ‘n oorlogskamer by die rampbestuursentrum in Midrand gestig om die waterkrisis te hanteer.
En laastens is daar nuus oor die 82-jarige Malcolm Breaves van Rondevlei naby Wildernis wat tot vyf-duisend-rand of 12 maande tronkstraf gevonnis is nadat hy ‘n blouapie met ‘n windbuks in die oog geskiet het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor O’Sullivan se getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee.
En berig vyf verdagtes het in die Kemptonpark-landdroshof verskyn om dat hulle na bewering Suid-Afrikaners gewerf het om in die Russies/Oekraïnse-oorlog te veg.
# Sowetan:
Lei met: “DRY BELOVED CITY OF DARKNESS.” Die koerant berig oor die uitwerking van Johannesburg se water- en kragkrisis op die inwoners en sakeondernemings in Suid-Afrika se ekonomiese hart.
# En The Citizen:
Skryf vandag is Dag Zero vir talle inwoners van Johannesburg wat watervoorsiening betref. Die organisasie WaterCAN het ‘n beroep op Johannesburg gedoen om die stad se waterkrisis tot nasionale ramp te laat verklaar.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor SANparke se nuwe reëling dat besoekers aan die Tafelberg Nasionale Park eers ‘n vrywaringsvorm moet voltooi. Die toerismebedryf sê die vorm vrywaar slegs die park en doen nie veel vir die veiligheid van toeriste nie. Die proses sal ook toerisme ontwrig.
En tweedens skryf die koerant die watervloei van die Theewaterskloofdam na Kaapstad is gedeeltelik herstel nadat ‘n fout met ‘n beheerklep die watersuiweringsaanlegte tot stilstand gedwing het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig Oos-Kaapse gemeenskappe het ‘n maand om beswaar aan te teken teen nuwe plekname wat voorgestel word.
En skryf tweedens hoewel hulp instroom vir die DBV in Kariega is daar nog geen vordering met die uitsettingsbevel teen die vereniging nie.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor O’Sullivan se getuienis. Hy het voor die parlementêre ad hoc-komitee ten sterkste ontken dat hy ‘n buitelandse agent is.
En tweedens word berig dit is meer as ‘n week en daar is nog niks gedoen om die probleme met die lugverkoeling by die Grey’s-hospitaal op te los nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig Namibië kan die vertroue van beleggers ondermyn en miljarde dollars se olie- en gasbeleggings vertraag indien voorgestelde wysigings aan die Petroleumwet nie onmiddellik aanvaar en toegepas word nie.
En tweedens skryf die koerant werkersklas-inwoners vind dit byna onmoontlik om toegang tot bekostigbare grond en ordentlike behuising in Swakopmund te kry.