Nuus 09:00
BULLETIN 9 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die onttrekking van die SANW uit die DRK sal teen die einde van die jaar voltooi wees
# Nersa keur Eskom se inkomste-aanpassing goed ná die 54,7-miljard-rand-fout
# En die parlementêre ad hoc-komitee vergader vandag om getuiekwessies te bespreek
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika sal met die Verenigde Nasies saamwerk om die tydlyne en ander voorwaardes vir die onttrekking van die land se troepe uit die VN-vredesending in die konflikgeteisterde Demokratiese Republiek die Kongo af te handel. Dit beëindig ‘n 27-jaar lange ontplooiing. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het meer as 700 soldate in die DRK as deel van die VN-sending, MONUSCO. Die Presidensie sê die onttrekking van die troepe sal voor die einde van die jaar voltooi wees.
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het bykomende toelaatbare inkomste van 54,734-miljard-rand vir Eskom goedgekeur om ‘n regulatoriese batefout reg te stel. Die reguleerder het aanvanklik ʼn fout bespeur in sy sesde veeljaarlikse prysvasstelling. Die kragvoorsiener voer aan die berekening lei tot ʼn tekort van 107-miljard-rand in sy toelaatbare inkomste, maar het na beraadslaging besluit om Nersa se aanbod van 54-miljard-rand te aanvaar. Nersa-woordvoerder Charles Hlebela sê die herberekening is volgens die goedgekeurde MYPD4-metodologie gedoen:
# Die parlementêre ad hoc-komitee vergader vandag om huishoudelike sake te bespreek, insluitend die skedulering van getuies en korrespondensie van die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza. Dit volg nadat sy die komitee se versoek om dagvaardings vir die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan en die Noordwes-sakeman Brown Mogotsi van die hand gewys het. Beide getuies het geweier om persoonlik te getuig, as gevolg van sekerheidskwessies wat die Parlement nie aanspreek nie. Die komitee werk binne ‘n streng tydsraamwerk nadat ‘n verlenging tot 20 Februarie toegestaan is om sy werk af te handel.
# Die Wes-Kaapse regering het 100-miljoen-rand opsy gesit om genoeg entstofdosisse te verkry om vee te beskerm te midde van die bek-en-klouseer-uitbreking. Die provinsie het voltydse grensbeheer en omvattende maatreëls ingestel na ‘n bevestigde uitbreking in die Wellington-gebied. Die Wes-Kaap is na bewering nie geoormerk om van die eerste besending van 12-duisend plaaslik vervaardigde entstowwe te ontvang nie. Premier Alan Winde sê ‘n 21-punt-plan word dringend ingestel om die siekte te bestry:
# Amerikaanse voetbal: Die Seattle Seahawks is vir die tweede keer die Super Bowl-kampioene nadat hulle ‘n oortuigende oorwinning van 29-13 teen die New England Patriots by Levi-stadion in Santa Clara, Kalifornië, behaal het. Die oorwinning volg elf jaar nadat hulle teen die Patriots in die Super Bowl verloor het, en 12 jaar nadat hulle hul eerste NFL-titel met ‘n oorweldigende oorwinning oor die Denver Broncos verower het. Seahawks-quarterback Sam Darnold sê dis ’n ongelooflike gevoel om die Super Bowl te wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-153-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-17-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-8-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….