Nuus 06:00
BULLETIN 9 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mantashe sê Afrika besit ‘n ongeëwenaarde deel van die wêreld se natuurlike hulpbronne
# Die DA sê bek-en-klouseer is buite beheer in Gauteng
# En rugby: Philip Snyman is trots op sy Blitsbokke wat in Perth as kampioene gekroon is
# Die minister van Minerale en Petroleum Hulpbronne, Gwede Mantashe, sê hoewel Afrika ‘n ongeëwenaarde aandeel van die wêreld se natuurlike hulpbronne besit wat noodsaaklik is vir industrialisering, digitalisering en wêreldwye ekonomiese groei, bly die vasteland grootliks arm. Mantashe het Sodnag voor die opening van die 2026 African Mining Indaba in Kaapstad gesê mobilisering van kapitaal op die skaal wat nodig is vir eksplorasie, verantwoordelike mynbou en waardetoevoeging nader aan die produksiepunt, kan nie deur regerings alleen bereik word nie. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika reeds volgens hierdie benadering optree.
# Die MK-party het formeel in die parlement aansoek gedoen vir ‘n dringende blitsdebat om Suid-Afrika se toenemende nasionale waterkrisis aan te spreek. Woordvoerder Nhlamulo Ndhlela sê reg oor die land word gemeenskappe gekonfronteer met droë krane, besoedelde water, stukkende rioolstelsels en vervalle afvalwaterbehandelingswerke. Ndhlela vra die Parlement om dringend ondersoek in te stel waarom die krisis toegelaat is om so ver te gaan. Hy eis verantwoording deur president Cyril Ramaphosa vir die versuim om die beloftes na te kom wat hy in sy 2025 staatsrede gemaak het, toe hy onderneem het om die waterkrisis op te los.
# Eskom gaan voor spitstyd vanaand drieduisend-810 megawatt se opwekkingsvermoë vrystel om bestendige elektrisiteitsvoorsiening dwarsdeur die week te handhaaf. Die woordvoerder van die kragvoorsiener, Daphne Mokwena, sê beplande instandhouding staan op gemiddeld vyfduisend-354 megawatt, wat 11,38-persent van die totale opwekkingskapasiteit verteenwoordig. Sy sê dit is effens minder as verlede week se 11,41-persent:
# Die DA in Gauteng is bekommerd oor die gebrek aan planne om die uitbreking van bek-en-klouseer in die provinsie te bestry. Die party sê hy het verskeie ernstige tekortkominge geïdentifiseer in die provinsiale Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling se jongste aanbieding oor die bestuur van die siekte. Bronwynn Engelbrecht van die DA sê volgens die departement se eie syfers is daar honderde uitbrekings in Gauteng:
# Die Britse premier Keir Starmer se personeelhoof, Morgan McSweeney, het bedank oor sy rol in die aanstelling van Peter Mandelson as Amerikaanse ambassadeur. Dit volg nadat die polisie ‘n strafregtelike ondersoek ingestel het na bewerings dat Mandelson sensitiewe regeringsinligting aan die ontslape, veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein oorgedra het. McSweeney sê hy neem volle verantwoordelikheid vir die raad aan Starmer om Mandelson aan te stel, ‘n besluit wat vertroue in die Arbeidersparty, die land en die politiek ondermyn het. Hy sê hy ondersteun die premier steeds ten volle.
# Rugby: Die Springbok-sewesafrigter Philip Snyman het sy spelers geprys vir hulle oorwinning in die Perth-sewes, nadat hulle verlede naweek in Singapoer slegs vierde plek kon haal. Suid-Afrika het Fidji met 21-19 verslaan om hul eerste titel in Australië sedert 2017 te verower. In die vroue-afdeling het Nieu-Seeland Australië met 29-7 geklop om hul derde titel van die seisoen te verower. Snyman sê die oorwinning in die eindstryd is te danke aan kalmte, en goeie verdediging en dissipline:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-877-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-989-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….