Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 09 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die polisie se spesiale taakspan het twee maande en vyf-miljoen-rand om ondersoek in te stel en tugstappe te doen teen die polisiebeamptes wat in die Madlanga-kommissieverslag by onwettige optrede betrek word.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die direkteur van Veterinary Network, Danie Odendaal sê die aankondiging dat daar nou plaaslik vervaardigde entstof teen bek-en-klouseer beskikbaar is, is nie ‘n deurbraak nie. Dit is verraad teen die welstand van diere en die boere wat die nasie voed.
Dan skryf die webblad oor die selfdood van die 41-jarige Wiandre Pretorius wie se naam by die Madlanga-kommissie genoem is in verband met verskeie sake. Hy het homself voor sy verloofde by ‘n vulstasie in Brakpan doodgeskiet.
En laastens word berig ‘n 63-jarige deelnemer aan die Midmar-myl is tydens die swemmarathon dood nadat haar hart na bewering gaan staan het.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor die selfdood van Wiandre Pretorius en die polisie se geregtelike doodsondersoek wat nou volg.
Verder word berig oor al die sokkeruitslae die afgelope naweek.
# Sowetan:
Berig die dood van Pretorius het ‘n baie wyer polisie-ondersoek aan die lig gebring, onder meer ook die moord op Marius ‘Vlam’ van der Merwe wat op 5 Desember voor sy huis in Brakpan doodgeskiet is.
# En The Citizen:
Skryf oor die kanse van Solly Msimanga om as DA-leier verkies te word. Hoewel Geordin Hill-Lewis voorloop is Msimanga met sy Gautengse steun op sy hakke.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor die beheerpunte en ander maatreëls wat ingestel word om bek-en-klouseer in die Wes-Kaap te beheer. Dan is daar ook nuus oor Pretorius se selfdood en die koerant skryf oor ‘n vrou wat na bewering deur haar eie pitbull-honde verskeur is. Laastens word berig oor die Blitsbokke se segetog in Perth.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig eerstens oor die Nelson Mandelabaai-metro se planne om die jongste kragtarief-aanpassing te beheer.
Dan bespiegel die koerant oor die jongste ANC-leierskapstryd in die provinsie wat die afgelope naweek aan die lig gekom het.
En derdens word berig die Baai is moontlik die keuse vir ‘n Springbok/Barbarians-kragmeting.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf bek-en-klouseer het ‘n reuseprobleem veroorsaak met die lewering van lobola-beeste in die provinsie.
Berig ‘n spesiale ontwikkeling word beplan om die Howick-waterval weer as toeriste-aantreklikheid te vestig.
En laastens is daar ook nuus oor die Midmar-swemmarathon die afgelope naweek.
En ten slotte uit NAMIBIË:
#Republikein in Windhoek:
Berig die voormalige besturende direkteur van Namcor, Immanuel Mulunga, beskuldig die nasionale oliemaatskappy van ongegronde dissiplinêre klagte teen hom. Hy eis nou 1,6-miljoen-rand.
En tweedens skryf die koerant Namibië het onmiddellik opgetree en verskerpte grens-biosekuriteitskontroles ingestel om te voorkom dat die bek-en-klouvirus die land binnekom.