Nuus 06:00
BULLETIN 4 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê sy groei is nie te danke aan die probleme van ander partye nie
# Die DA blameer die nuwe NSFAS-stelsel vir onveilige studentebehuising
# En Donald Trump eis dat Republikeine verkiesings oorneem en nasionaliseer
# Die Vryheidsfront Plus sê die party se beduidende en volgehoue groei kan nie toegeskryf word aan die probleme of omstandighede van enige ander party, insluitend die DA nie. Dit volg op berigte dat die DA-leier John Steenhuisen na verwagting uit die party se leierskapswedloop sal tree voor sy nasionale verkiesingskongres in April. Die VF Plus-leier Corné Mulder sê sy party se groei is regstreeks gekoppel aan sy teenkanting teen die ANC se mislukte beleid en sy plasing van Suid-Afrika in konflik met verskeie lande, wat die land se internasionale aansien in gevaar stel.
# Die Suid-Afrikaanse Meesterplan vir Hernubare Energie het sy projekbestuurskantoor by die Onafhanklike Kragprodusentekantoor in Centurion, Gauteng geopen. Die adjunkminister van Elektrisiteit en Energie, Samantha Graham-Maré, sê die kantoor sal die plan implementeer. Die projek sal teen 2030 tot 25-duisend werksgeleenthede skep en bied vaardigheidsontwikkeling vir die jeug en bevorder vroue:
# Die DA sê die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente moet aanspreeklik gehou word vir swak studente behuising aangesien sy nuwe studenteverblyfportaal misluk. Ten spyte van beloftes, kry baie geakkrediteerde privaat behuisingsverskaffers nie hulle betaling nie, en studente moet in onveilige, onbeskermde behuising woon wat swak onderhou word. Die party doen ‘n beroep op die skema om rekenskap te gee van die swak toestande en studente se veiligheid te verseker. Die DA sê geen student moet gedwing word om in onveilige of vernederende toestande te lewe nie.
# Die Gautengse Departement van Onderwys is in gesprek met verskaffers van vervoerdienste vir leerders om uitstaande betalings af te handel. Dit volg nadat sommige operateurs Maandag dienste gestaak het, wat leerders en skoolbywoning geraak het. Terwyl betalings gefinaliseer word, is skole aangeraai om akademiese herstelmaatreëls te implementeer om onderrig en leer op koers te hou. Steve Mabona van die departement moedig verskaffers aan om voort te gaan om leerders sonder onderbrekings te vervoer:
# President Donald Trump het Republikeine aangespoor om die verkiesing in ten minste 15 state te nasionaliseer om te verhoed dat die party uitgestem word. Amerikaanse verkiesings word deur staats- en plaaslike amptenare bestuur, met die federale regering wat slegs ‘n beperkte rol speel. Sy opmerkings volg dae nadat die FBI ‘n klopjag by ‘n verkiesingskantoor in Georgia uitgevoer het om stemrekords van die 2020-verkiesing te ondersoek. Trump wil stemmeganismes federaliseer om te verhoed dat ongedokumenteerde immigrante stem.
# Rugby: Die Prendergast-broers, Sam en Cian, sal vir die eerste keer saam wees in Ierland se beginspan vir môre se Sesnasies-openingswedstryd teen Frankryk op die Stade de France in Parys. Cian maak sy debuut in die kompetisie op flank, terwyl Sam die nommer tien-trui sal dra. Die hoofafrigter, Andy Farrell, het sewe veranderinge aan die beginspan aangebring wat in November met 24-13 teen die Springbokke in Dublin verloor het. Ierland se twee voorkeurvleuels, Mack Hansen en James Lowe, is weens beserings nie beskikbaar nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-517-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-946-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….