Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 04 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die leier van die DA, John Steenhuisen, sal na verwagting vandag sy uittrede uit die party se leierskapsverkiesing aankondig. Die koerant skryf dit volg na onderlinge spanning in die party.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die voormalige premier van die Vrystaat, Ace Magashule is deur die fluitjieblaser Patricia Mashale betrek by die moorde op getuies in die Vrede-suiwelplaassaak. Sy het ook aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê Joseph Nguru word tans aangehou omdat hy oor inkriminerende inligting beskik.
En tweedens skryf die webblad die 64-jarige Mariana Kotze wat na bewering Maandag in die Komatipoort-omgewing ontvoer is, word steeds vermis. Haar voertuig is op verkeerskameras geïdentifiseer.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die Siamese tweeling-seuns wat op 28 Januarie in die Mankweng Tersiêre Hospitaal in Limpopo gebore is, is albei tans in ‘n stabiele toestand. Verpleegpersoneel het bevestig die tweeling is by die maag geheg.
En tweedens word ook berig oor die DA-leierskapstryd wat besig is om momentum op te tel.
# Sowetan:
Berig oor Thabo Khoza wat in ‘n motorongeluk beseer is en ‘n uitbetaling van 400-duisend-rand van die Padongelukkefonds ontvang het. ‘n Familielid het egter die geld gesteel en onder meer ‘n BMW gekoop terwyl Khoza skaars geld vir medisyne het.
# En The Citizen:
Skryf dit het aan die lig gekom dat die burgemeester van Heidelberg, Mluleki Nkosi se huis in Berg-en-Dal op die munisipale rol vir slegs 800-duisend-rand gewaardeer is terwyl dit in werklikheid 3,5-miljoen-rand werd is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis se naam word genoem as moontlike opvolger vir Steenhuisen. Terwyl Steenhuisen kan aanbly as minister van landbou, kan Hill-Lewis partyleier wees as burgemeester.
Tweedens skryf die koerant oor ‘n egpaar van Constantia wat aangeval en beroof is by luukse verblyf op die plaas Palmietfontein buite Wolseley.
En laastens is daar nuus oor nooddienswerkers wie se paaie in een aand twee keer met luiperds gekruis het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Parlement is nou ook betrek by die peperduur transformators wat die Nelson Mandelabaai-metro wil aankoop.
En tweedens skryf die koerant oor die vermaaklikheidster, Ian von Memerty se YouTube-reeks “Dying for a better life” wat hy gemaak het nadat sy ma ná ‘n siekbed en baie pyn op 95 oorlede is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die bek-en-klouseer-epidemie kan die DA breek as gevolg van die kritiek teen die partyleier, John Steenhuisen.
En tweedens word berig The Witness vier sy 180ste verjaarsdag.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese president Netumbo Nandi-Ndaitwah sê geen individu, gesag of instelling is verhewe bo die reg nie en die regering se verbintenis tot aanspreeklikheid, deursigtigheid en die stryd teen korrupsie bly onwrikbaar.
En tweedens skryf die koerant Namibië se ystervrou en legende, Martie Voigt is op die ouderdom van 94 jaar oorlede. Sy is ook die skrywer van ‘n Leeftyd later: Herinneringe aan Angola.