Nuus 06:00
BULLETIN 3 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die toename in internasionale besoekers is ‘n mosie van vertroue
# Solidariteit doen ‘n beroep op die Trump-administrasie om Suid-Afrika in AGOA te hou
# En krieket: Die Proteas hoop om vanjaar beter te vaar in die T20-wêreldbeker
# President Cyril Ramaphosa sê die regering is vasbeslote om die regulatoriese en beleidsomgewing te versterk om die toerismesektor verder te laat groei. Tussen Januarie en Desember 2025 het ongeveer 10,5-miljoen toeriste Suid-Afrika besoek, wat die hoogste aantal internasionale besoeke ooit is. In sy weeklikse nuusbrief sê Ramaphosa elke besoeker aan die land dra by tot buitelandse inkomste-verdienste, die ondersteuning van plaaslike ondernemings, die versterking van plaaslike ekonomieë en werkskepping. Hy sê Suid-Afrika se groeiende wêreldwye toerisme-voetspoor is ‘n belangrike deel van diplomasie.
# Die vakbond Solidariteit het die Withuis in die VSA versoek om Suid-Afrika in die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika te hou. Die Amerikaanse senaat het onlangs ‘n verlenging van AGOA goedgekeur, maar die Withuis moet nog besluit watter Afrikalande kwalifiseer. Jaco Kleynhans van Solidariteit waarsku Suid-Afrika kan uitgesluit word weens spanning met die VSA, wat werksgeleenthede en uitvoere in gevaar stel. Kleynhans sê handelsvoordele moet Suid-Afrikaanse werksgeleenthede en besighede beskerm, terwyl beleidskwessies deur dialoog opgelos moet word en nie handelsuitsluiting nie.
# Die energiereguleerder, Nersa, sê alle kleinskaalse sonkrag- en ingebedde opwekkingstelsels wat aan die elektrisiteitsnetwerk gekoppel is, moet geregistreer word. Installasies tot 100 kilowatt moet by die plaaslike verspreider registreer, terwyl dié bo 100 kilowatt direk by die reguleerder registreer. Charles Hlebela van Nersa sê registrasie verseker veilige en betroubare integrasie in die elektrisiteitsnetwerk en ondersteun die groei van hernubare energie terwyl alle elektrisiteitsgebruikers beskerm word:
# Die Provinsiale Regering van Gauteng sê voorsorgskorsing is administratief, nie strafbaar nie, en arbeidsregulasies vereis dat die staat beskikbare kapasiteit moet gebruik eerder as om amptenare op langdurige betaalde skorsing te hou. Die regeringswoordvoerder Elijah Mhlanga het reageer op die hertoewysing van drie senior amptenare wat voorheen op voorsorgskorsing geplaas is weens ondersoeke na beweerde bedrog en wanadministrasie:
# Die Beleidshoof van die Europese Unie, Kaja Kallas, het die heropening van die Rafah-kruising verwelkom en dit beskryf as ‘n reddingsboei vir beseerde en siek Palestyne in Gaza. Rafah, wat Gaza se enigste grenspos met Egipte is, is meestal gesluit sedert Israel dit in Mei 2024 oorgeneem het. Die heropening volg op die repatriasie van die laaste Israelse gyselaar, Ran Gvili, wie se liggaam in ‘n begraafplaas in die noorde van Gaza gevind en verlede week aan Israel terugbesorg is. Kallas sê praktiese stappe soos hierdie help om die wapenstilstandsplan te bevorder en moet steeds ingestel word.
# Krieket: Die Proteas hoop om te verbeter op sy vorige vertoning wanneer die T20-wêreldbeker hierdie komende naweek in Indië en Sri Lanka begin. Suid-Afrika het twee jaar gelede die eindstryd in Barbados gehaal, maar kon nie daarin slaag om Indië te klop om die beker te beklink nie. Die oorwinning in die Wêreldtoetskampioenskap verlede jaar het die Proteas hoop gegee vir ‘n soortgelyke uitslag in witbalkrieket. Hulle speel teen Kanada, Afghanistan, Nieu-Seeland en die Verenigde Arabiese Emirate in hul groepwedstryde, wat Maandag teen Kanada in Ahmedabad, Indië, begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-721-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-659-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….