Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 03 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die sakeman en ANC-lid, Suleiman Carrim het ‘n hofaansoek ingedien om die Madlanga-kommissie te keer om hom te dagvaar om te getuig en te antwoord op bewerings oor sy betrokkenheid by ‘n tender wat aan Vusimuzi “Cat” Matlala toegestaan is.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die vermeende sindikaatleier, Cat Matlala en die reeksverkragter en moordenaar, Thabo Bester is beide na ander gevangenisse oorgeplaas. Die Departement van Korrektiewe Dienste sê die stap is gedoen na veiligheids- en risikobeoordelings.
Dan skryf die webblad die burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Loyiso Masuku sal moontlik as eerste adjunkburgemeester in Johannesburg aangestel word.
En laastens word berig die druk neem toe om te keer dat bek-en-klouseer nie na die Noord-Kaap versprei nie. Die DA het ‘n beroep op die povinsiale regering gedoen om die provinsie te beskerm.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf oor die transformator-ontploffing in Nieu-Doornfontein in Johannesburg waarin ‘n student en drie veiligheidswagte ernstige brandwonde opgedoen het. ‘n Deel van die gebou het ook ineengestort.
# Sowetan:
Berig oor verskeie gevalle waar gemeenskappe self ingegryp het om die plaaslike regering se mislukkings reg te stel. In een geval het die Vaal-gemeenskap ‘n brug oor ‘n stroom gebou sodat hulle ‘n plaaslike onderneming kan besoek. En in Emfuleni het ‘n groep senior burgers self hul rioolstelsel reggemaak nadat hul versoeke reeds vir jare op dowe ore val.
# En The Citizen:
Skryf in van die Jeffrey Epstein-e-posse wat aan die lig gekom het, is daar nie net verwysings na oudpresident Jacob Zuma nie, daar is ook vermelding van ‘n Kaapse agent “Daniel” wat berig doen oor die jong meisies wat beskikbaar is.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig een van die beskuldigdes in die moord op Piet de Koker, die 20-jarige Ryan Munnik het nie by die hof opgedaag nie en ‘n lasbrief is uitgereik. De Koker is in Januarie in ‘n begraafplaas in Distillery-weg in Onder-Papegaaiberg vermoor.
En tweedens is daar nuus oor damme in die Wes-Kaap wat tans op slegs 51-persent staan met die uiters warm weer wat voortduur.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Nelson Mandelabaai-metro is van plan om 37-miljoen-rand te bestee om twee nuwe transformators te installeer.
En tweedens skryf die koerant die onaangename rioolreuk in Gqeberha is besig om ‘n negatiewe uitwerking op toerisme te hê.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf daar dreig nog ‘n politieke botsing tussen die IVP-geleide Samewerkende Regering en Tradisionele Sake en die ANC in KwaZulu-Natal na aanleiding van die departement se ultimatum dat die Impendle Plaaslike Munisipaliteit binne ‘n week ‘n burgemeester moet kies.
En tweedens berig die koerant die provinsie is gereed om bek-en-klouseer-inentings uit te rol.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die besturende direkteur van Walu Fishing, Erna Loch, het die ministerie van Visserye beskuldig dat hy ’n gebrekkige werkverrigtingsprogram beskerm wat nie voormalige vissers bevoordeel wat dit veronderstel was om te help nie.
En tweedens skryf die koerant openbare konsultasies oor die Konsepwetsontwerp vir Staatsbeheerde Universele Gesondheidsdekking en -sorg het begin.