Nuus 17:00
BULLETIN 30 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Israel se saakgelastigde word tot persona non grata verklaar
# Shamila Batohi spreek kommer uit oor die Nkabinde-ondersoek op haar laaste dag in die posisie
# En, die Malusi Gigaba-korrupsieverhoor word oorgeplaas na die Hooggeregshof in Johannesburg
# Suid-Afrika het Israel se saakgelastigde, Ariel Seidman, tot persona non grata verklaar na herhaalde oortredings van diplomatieke norme. Chrispin Phiri van die Departement van Internasionale Verhoudinge en Samewerkinge het as redes gegee beledigings teenoor president Cyril Ramaphosa op amptelike Israelse sosiale media en versuim om die departement in kennis te stel van besoeke deur senior Israelse ampsdraers. Seidman moet die land binne 72 uur verlaat. Die regering beklemtoon Suid-Afrika se soewereiniteit en diplomatieke protokol moet respekteer word, en maan Israel om behoorlike gedrag tydens toekomstige ontmoetings te verseker.
# Die uittredende Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, het bewerings ontken dat sy uit die Nkabinde-ondersoek gestap het. Sy het op haar laaste dag in die posisie beklemtoon sy is nie ‘n oortreder nie en is steeds ten volle verbind tot die ondersoekproses. Batohi sê sy kan nie besonderhede in die openbaar bespreek nie, maar voel ‘n verantwoordelikheid om die land toe te spreek voordat sy aftree:
# Die korrupsiesaak teen die voormalige minister van Openbare Ondernemings, Malusi Gigaba, en sy vier medebeskuldigdes is oorgeplaas na die Hooggeregshof in Johannesburg. Gigaba, die voormalige Transnet-bestuurders Brian Molefe, Siyabonga Gama en Anoj Singh, en die ingenieur Thamsanqa Jiyane het in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng, verskyn. Aanklaers beweer Gigaba het onbekende finansiële voordele ontvang wat verband hou met onreëlmatige lokomotief-verkrygingskontrakte van miljarde-rand tydens sy ampstermyn. Die staat het ‘n gewysigde kennisgewing van verhoor beteken, met die verrigtinge wat op 19 Februarie hervat.
# Die DA in Tshwane het die metro se besluit verwelkom om die Nasionale Tesourie te vra om die tenderpreneur Edwin Sodi en sy maatskappye te verhoed om verdere regerings-kontrakte te bekom. Sodi word daarvan beskuldig dat hy nie sy kontrak vir 250-miljoen vir opgradering van die Rooiwal-watersuiweringswerke in 2019 nagekom het nie en dit daarom gekanselleer is. Die Tesourie het voorheen die aansoek weens gebreke van die hand gewys. DA-leier Cilliers Brink dring aan op optrede sonder eksterne inmenging:
# Tennis: Die Suid-Afrikaner Connor Doig en die Bulgaar Dimitar Kisimov is deur na die eindstryd van die junior mans-dubbelspel by die Australiese Ope. Hulle het die Brit Mark Ceban en die Rus Kirill Filaretov in ‘n tien-punt-valbylpot verslaan nadat elk ‘n stel gewen het. Die uitvoerende hoof van Tennis Australië, Craig Tiley, wat van Suid-Afrika kom, het Doig agterna geluk gewens. Doig en Kisimov speel môre in die eindstryd teen die plaaslike promotorskeuses Ymerali Ibraimi en Cooper Kose, en Doig beskryf dit as die belangrikste wedstryd van sy lewe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-679-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-86-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….