Nuus 18:00
BULLETIN 30 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Shamila Batohi sê die anti-korrupsie-eenheid het besondere mylpale bereik
# Die Konstitusionele Hof wys die Guptas en Iqbal Sharma se Nulane-appèlle van die hand
# En, Minister Leon Scheiber onthul onwettige grensoorstekings het skerp gedaal in die feesgety
# Die uittredende nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Shamila Batohi, sê die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie het belangrike mylpale in 2024/25 bereik. Die eenheid het 50 hoëprofiel-sake geregistreer waarby 332 beskuldigdes betrokke was, met belangrike sake soos Transnet wat vir die hof geskeduleer is. Batohi sê 380 korrupsieskuldigbevindings is behaal, asook 268 ingewikkelde kommersiële skuldigbevindings. Sy het ook die Eenheid vir Batesbeslaglegging geprys wat 1,96-miljard-rand herwin het, met 1,9-miljard-rand wat in die Kriminele Bateherwinningsrekening betaal is om misdaadbestrydingspogings te befonds:
# Die Konstitusionele Hof het ‘n reeks appèlle deur die Guptas en hulle medewerker Iqbal Sharma teen ‘n uitspraak van die Appèlhof dat die Nulane-korrupsiesaak herverhoor kan word, van die hand gewys. Die appèlle het die beslissing betwis waarin waarnemende regter Nompumelelo Gusha van die Vrystaatse Hooggeregshof die beskuldigde in die Nulane-bedrog- en geldwassery-saak van 24,9-miljoen-rand ontslaan het. Die Appèlhof het ‘n opdrag gegee dat die beskuldigde voor ‘n ander regter verhoor kan word. Die Konstitusionele Hof het die Appèlhof se beslissing gehandhaaf.
# Die minister van Binnelandse Sake, Leon Schreiber, sê onwettige grensoorstekings het aansienlik afgeneem oor die feesgety danksy strenger wetstoepassing en afskrikmiddels. Meer as 25-duisend mense is tussen 10 Desember en 15 Januarie onderskep, die meeste sonder geldige dokumente. Schreiber sê kunsmatige intelligensie-aangedrewe hommeltuie, verskerpte patrollies en vennootskappe met wetstoepassing en vervoeragentskappe het onwettige beweging help teenwerk. Hy sê ook die inhegtenisnemings van bemiddelaars en verbeterde toesig toon dat voorkomingspogings werk:
# Die IVP verwelkom die Reserwebank se besluit om die terugkoopkoers op 6,75-persent te hou en sê dit bied korttermynverligting aan huishoudings en ondernemings. Nhlanhla Hadebe van die party waarsku net monetêre beleid kan nie groei aanvuur nie en vra kragtige fiskale en strukturele hervormings, insluitend ondersteuning vir verbruikers, klein, medium en mikro-ondernemings, en behuising. Hadebe lig gesamentlike regeringsoptrede uit om kwesbare huishoudings te beskerm:
# Motorsport: Lewis Hamilton het die “verbasende” aantal kilometers vir Ferrari op dag vier van Formule Een se voorseisoen-toetse in Spanje, geprys. Ferrari het verlede jaar nie ‘n enkele wedren gewen nie, en Hamilton, die sewemalige wêreldkampioen, het vir die eerste keer ‘n seisoen beleef sonder ‘n enkele verskyning op die podium. Hy het aan die einde van 2024 by Ferrari aangesluit. Alle spanne moet drie van vyf dae kies om hul nuwe motor “agter-geslote-deure” in Barcelona te toets. Formule Een-spanne het volgende maand twee oop toetse in Bahrein voor die Australiese Grand Prix op 8 Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-840-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-63-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 69-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….