Nuus 13:00
BULLETIN 30 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika lewer ‘n Chinese burger uit wat aangekla word van bedrog teen sy regering
# Zuma en Mbeki se aansoeke om regter Khampepe van die WVK-verhore te laat onttrek word van die hand gewys
# En krieket: Molineux word kaptein van die Australiese vrouespan wanneer Healy uittree
# ‘n Chinese man wat na bewering sy regering met 120-miljoen-rand bedrieg het, is aan ‘n Chinese afvaardiging in Suid-Afrika oorhandig. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê die 63-jarige Fujia Chen gaan verhoor word vir bedrog deur ‘n ongeregistreerde buitelandse valuta-onderneming. Hy het in 2021 na Suid-Afrika gevlug en is in hegtenis geneem terwyl hy aansoek gedoen het vir ‘n Amerikaanse visum. Mathe voeg by ‘n uitleweringsbevel is op 20 Januarie toegestaan:
# Oudregter Sisi Khampepe het oudpresidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki se aansoeke van die hand gewys dat sy as voorsitter van Waarheids- en Versoeningskommissie-sake moet onttrek. Die aansoeke verwys na beweerde botsende belange weens Khampepe se vorige rolle in die WVK en die Nasionale Vervolgingsgesag. Sy het in haar uitspraak gesê Zuma en Mbeki kon nie daarin slaag om enige redelike vrees van vooroordeel te bewys nie, en het die indiening van hul onttrekkingsaansoeke onredelik vertraag. Die uitspraak beteken die oudpresidente sal voor die kommissie moet getuig.
# Die Stad Tshwane het ‘n aansoek by die Nasionale Tesourie ingedien om Edwin Sodi en sy geaffilieerde sakeondernemings op die swartlys te plaas. Sodi se maatskappye het in 2019 ʼn tender van 290-miljoen-rand ontvang om die Rooiwal-watersuiweringsaanleg op te knap. Die werk is weens die kontrakteurs se swak prestasie laat vaar nadat die volle bedrag reeds betaal is. Woordvoerder Zintle Mahlati sê hulle het seker gemaak die proses word reg hanteer:
# Die vakbondfederasie Saftu sê die monetêre beleidsraamwerk van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee bly verwyder van die werkersklas en die werkloses se werklikheid. Die komitee het die terugkoopkoers op 6,75-persent gehou en die prima-uitleenkoers op 10,25-persent. Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, sê die komitee se voortgesette afhanklikheid van rentekoerse as die hoofbron van ekonomiese bestuur is kommerwekkend:
# Krieket: Die veelsydige Sophie Molineux sal die leisels oorneem as kaptein van Australië se vrouespan wanneer Alyssa Healy uittree. Die 28-jarige Molineux sal die span in volgende maand se T20-tuisreeks teen Indië aanvoer, en sal kaptein word van al drie formate vanaf die toets- en eendagtoer van die Karibiese Eilande in Maart. Sy het haar buiging vir Australië in 2018 gemaak en sedertdien drie toetse, 11 eendagwedstryde en 38 T20’s gespeel. Molineux speel ook vir Melbourne Renegades in die Big Bash, en vir Royal Challengers Bengaluru in die Indiese Premierliga.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-298-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-41-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….