Nuus 13:00
BULLETIN 29 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Reserwebank sal waarskynlik die rentekoers bestendig hou te midde van versigtigheid oor inflasie
# SANParke sê die droogte in Karoo-parke is deel van natuurlike ekologie
# En sokker: CAF straf Senegal en Marokko swaar ná wangedrag in die eindstryd van die Afrikabekertoernooi
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal na verwagting vanmiddag die terugkoopkoers op 6,75-persent hou. ‘n Meerderheid ekonome – 18 uit 26 wat Reuters ondervra het – voorspel die Monetêre Beleidskomitee sal die koers bestendig hou. Dit is as gevolg van ‘n effense styging in Desember se inflasiekoers tot 3,6-persent en ander moontlike bedreigings. ‘n Paar ekonome hoop op ‘n verlaging van 25 basispunte. Onlangse prysverhogings en wêreldwye markwisselvalligheid veroorsaak egter ‘n vertraging in die verligtingsiklus, ondanks inflasie wat binne die teiken bly.
# SANParke sê die huidige droogtetoestande in die Karoo-nasionale park in die Wes-Kaap en die Bergsebra-park in die Oos-Kaap is ekologies natuurlik. SANParke sê besoekers mag dalk maer diere en meer karkasse opmerk, maar dit is deel van die siklus van die ekostelsel. Woordvoerder JP Louw sê parkbestuur monitor waterbronne en dierebevolkings terwyl natuurlike prosesse toegelaat word om hul gang te gaan:
# Die Departement van Binnelandse Sake het in die vorige kalenderjaar meer as vier-miljoen slim ID-kaarte uitgereik – die meeste in die geskiedenis van die departement. Die mylpaal is 17-persent meer as die drie-miljoen wat in 2024 uitgereik is. Minister Leon Schreiber sê dit wys hoe die departement se verbintenis tot digitale oorskakeling uitbrei en insluiting en toegang verhoog soos nog nooit voorheen nie. Hy sê die versnelde verskaffing van die kaarte is ‘n hoeksteen van die departement se mediumtermyn-doelstellings in die ontwikkelingsplan.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Keir Starmer, het sy ontmoeting met die Chinese president, Xi Jinping, as opbouend beskryf en gesê dit sal die verhouding versterk. Hy is op ‘n driedaagse werksbesoek aan Beijing, die eerste besoek van hierdie aard in agt jaar. Starmer sê hy en Xi het geleenthede geïdentifiseer om saam te werk, en sê Brittanje se verhouding met China is op ‘n sterk, goeie plek:
# Sokker: Die Konfederasie van Afrika-sokker se dissiplinêre raad het Senegal en Marokko gestraf ná hulle wangedrag tydens die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi. Senegal het 17 minute lank van die veld gestap nadat ‘n strafskop aan Marokko toegeken is. Die span het uiteindelik teruggekeer en die wedstryd in bykomende tyd gewen. Senegal is met 4,7-miljoen-rand beboet en afrigter Pape Bouna Thiaw is vir vyf wedstryde geskors en beboet. Ismaila Sarr en Iliman Cheikh Baroy Ndiaye is ook vir twee wedstryde geskors. Marokko is met 3,1-miljoen-rand beboet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-71-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 21-rand-71-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-916-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-518-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….