Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 29 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Die T20-reeks tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande verskuif vandag na Centurion in Gauteng nadat die Proteas Woensdag se eerste ontmoeting in die Paarl met nege paaltjies beklink het. Aiden Markram het ‘n kapteinsbeurt gespeel en ‘n onoorwonne 86 lopies bygedra. Die laaste T20 word Saterdag op die Wanderers in Johannesburg gespeel. Die reeks word as opwarming gebruik vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat volgende Saterdag in Indië en Sri Lanka begin, met die Proteas se eerste wedstryd twee dae later in Ahmedabad teen Kanada.
# Padwedlope: Die ikoniese Twee Oseane-marathon in Kaapstad het aangekondig dat die algehele prysgeld vir vanjaar tot 2,6 miljoen-rand verhoog word. Die ultra-marathon sal 2,1-miljoen-rand se prysgeld aanbied en die halfmarathon meer as 420-duisend-rand. Die voorsitter van die marathon, Chris Goldschmidt, sê deur die prysgeld vir 2026 te verhoog, erken hulle die toewyding en talent van elite-atlete, en verhoog hulle ook die aansien van die byeenkoms op die wêreldverhoog. Die wedloop sal van 10 tot 12 April plaasvind.
# Sokker: Die Konfederasie van Afrika-sokker se dissiplinêre raad het Senegal en Marokko gestraf na hulle wangedrag tydens die eindstryd van die Afrikabeker-toernooi. Senegal het 17 minute lank van die veld gestap nadat ‘n strafskop aan Marokko toegeken is. Die span het uiteindelik teruggekeer en die wedstryd in bykomende tyd gewen. Senegal is met 4,7-miljoen-rand beboet en afrigter Pape Bouna Thiaw is vir vyf wedstryde geskors en beboet. Ismaila Sarr en Iliman Cheikh Baroy Ndiaye is ook vir twee wedstryde geskors. Marokko is met 3,1-miljoen-rand beboet.
# Rugby: Die veteraan Franse stut Uini Atonia is gedwing om onmiddellik uit te tree as gevolg van ‘n hartaanval. Hy het Sondag aan sy klub, La Rochelle, se wedstryd teen Clermont onttrek nadat hy borspyne gekry het tydens opwarming. Die 35-jarige Nieu-Seelander is in ‘n bestendige toestand in ‘n plaaslike hospitaal. Atonia het sedert 2014 68 toetse vir sy aangenome land gespeel en is ingesluit in afrigter Fabien Galthie se aanvanklike groep vir die verdediging van hul Sesnasies-titel. Hy het twee Sesnasies-titels saam met Frankryk gewen.
# En laastens, gholf: Die negemalige wenner op die PGA-toer, Patrick Reed, het aangekondig dat hy LIV Gholf verlaat en terugkeer na die PGA-toer. Sy Amerikaanse landgenoot, Brooks Koepka, het ook die Saoedi-Arabies-ondersteunde reeks verlaat. LIV Gholf sê hy kon nie ʼn ooreenkoms met Reed bereik oor die moontlike verlenging van sy kontrak nie. Die PGA-toer sê aangesien Reed as lid bedank het voordat hy enige regulasies oortree het, mag hy op 25 Augustus as nie-lid na die kompetisie terugkeer. Hy wil weer aansoek doen vir PGA-lidmaatskap in 2027.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….