Nuus 06:00
BULLETIN 29 Januarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister in die Presidensie beklemtoon die regering se belangrikste prioriteite
# Minister Groenewald beveel die hersiening van die Griekwastad-moordenaar se parool
# En ActionSA vra vir ‘n interne aanstelling na Kieswetter se vertrek
# Die minister in die Presidensie, Khumbuzo Ntshavheni, sê die werk van die sewende administrasie word gelei deur die Mediumtermyn-ontwikkelingsplan 2024-2029. Dit is in die nastrewing van drie sleutelprioriteite: die bevordering van inklusiewe ekonomiese groei en werkskepping; die vermindering van armoede en die takel van die hoë lewenskoste; en die bou van ‘n bekwame, etiese en ontwikkelingstaat. President Cyril Ramaphosa het gister ‘n uitgebreide tweedaagse Kabinetslekgotla in Pretoria byeengeroep. Ntshavheni sê die vergadering beoordeel planne en prioriteite vir die jaar:
# Die minister van Korrektiewe Dienste, Pieter Groenewald, het ‘n hersiening van die parool van die Griekwastad-moordenaar gelas. Dit volg nadat die Korrektiewe Toesig- en Paroolhersieningsraad in Upington die anonieme oortreder se parool goedgekeur het vanaf 1 Maart 2026, tot die verstryking van sy vonnis op 13 Maart 2034. Hy is skuldig bevind aan die moord op drie lede van die Steenkamp-gesin in hul Noord-Kaapse huis in 2012. Die departement se woordvoerder, Singabakho Nxumalo, sê die paroolbesluit is opgeskort hangende die uitslag van die hersiening:
# ActionSA doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om die volgende kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens van binne die agentskap aan te stel en bestendigheid te handhaaf wanneer Edward Kieswetter in die middel van 2026 vertrek. Die party sê interne leierskap sal institusionele denke en hervormingsmomentum behou. ActionSA het Kieswetter geprys vir die herstel van bestuur en die bevordering van inkomste-invordering, wat nou meer as twee-duisend-miljoen-rand per jaar beloop. Die party vra ook vir ‘n onafhanklike, nie-politieke keuringspaneel en waarsku dat politieke aanstellings die geloofwaardigheid van die SAID kan ondermyn en fiskale volhoubaarheid bedreig.
# Die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, Lesetja Senona, het aan die Madlanga-kommissie gesê hy het bande met die vermeende tendermagnaat Vusimuzi “Cat” Matlala verbreek. Senona ontken dat hy sy posisie gebruik het om Matlala te bevoordeel of regeringskontrakte te verkry, insluitend ‘n gesondheidsorgtender van 360-miljoen-rand by die Polisie. Hy sê hy het sy verbintenis met Matlala beëindig nadat hy bewus geword het van die sakeman se beweerde gevaarlike gedrag:
# ‘n Suid-Koreaanse hof het die voormalige presidentsvrou, Kim Keon Hee, tot 20 maande tronkstraf gevonnis omdat sy Chanel-handsakke en ‘n diamanthangertjie van Unification Church-amptenare aanvaar het in ruil vir politieke gunste. Sy is die vrou van oudpresident Yoon Suk Yeol, wat verlede jaar uit die kussings gelig is. Kim is vrygespreek op ander aanklagte van aandeleprysmanipulasie en die oortreding van die Wet op Politieke Fondse. Die uitspraak volg te midde van ‘n reeks verhore wat voortspruit uit ondersoeke nadat Yoon in 2024 vir ‘n rukkie krygswet afgekondig het, asook verwante skandale wat met die eens invloedryke egpaar verbind word.
# Rugby: Die veteraan Franse stut Uini Atonia is gedwing om onmiddellik uit te tree as gevolg van ‘n hartaanval. Hy het Sondag aan sy klub, La Rochelle, se wedstryd teen Clermont onttrek nadat hy borspyne tydens opwarming ervaar het. Die 35-jarige Nieu-Seelander is in ‘n bestendige toestand in ‘n plaaslike hospitaal. Atonia het sedert 2014 68 toetse vir sy aangenome land gespeel en is ingesluit in afrigter Fabien Galthie se aanvanklike groep vir die verdediging van hul Sesnasies-titel. Hy het twee Sesnasies-titels saam met Frankryk gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-75-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-168-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-440-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-45-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….