Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 Januarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die hoof van die Valke in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Lesetja Semona, se getuienis voor die Madlanga-kommissie oor sy kontak met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala het uitgerafel.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig doktor Jean Redpath van die Dullah Omar-instituut het aan die parlementêre ad hoc-komitee gesê daar moet gekyk word na die befondsingsmodel van die polisie want dit wil voorkom of meer geld nie tot minder misdaad lei nie.
Tweedens skryf die webblad die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni sê regses het skynbaar daarvan afgesien om verder die wit volksmoord-leuens in die VSA te versprei.
En laastens is daar nuus oor Amor Vittone wat aan Marius van Biljon verloof geraak het.
GAUTENG:
# Sowetan:
Berig ook oor Semona se getuienis. Die koerant skryf hy het nooit sy kontak met Matlala verbreek toe hy van sy misdadige verlede uitgevind het nie en selfs ‘n vertroulike polisieverklaring aan hom beskikbaar gestel.
# En The Citizen:
Skryf daar is vrae oor die boeke van die Nasionale Vaardigheidsfonds. Die afgelope vier jaar se verslae dui op mislukkings met die ontwikkeling van vaardighede en die besteding van fondse.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die Wêreldbranderplankryliga het die J-Bay Ope vir die 2026 Kampioenskapstoer wat reeds 40 jaar aangebied word, gekanselleer weens ‘n gebrek aan finansiële steun. Die geleentheid sal nou in Nieu-Seeland plaasvind.
En tweedens skryf die koerant die polisie ondersoek ‘n saak van brandstigting nadat ‘n verwoestende brand Vrydagmiddag nege klaskamers en die administrasiegebou by die Augrabies Intermediêre Skool in die Noord-Kaap in puin gelê het. Volgens die koerant het die brand ontstaan toe leerders skelm gerook het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig ‘n 60-jarige man is op ‘n kleinhoewe naby Kouga vermoor en beroof.
En tweedens skryf die koerant ‘n gesin van Nelson Mandelabaai het talle vrae nadat hul seun op die snelweg doodgery is terwyl hy in die skool moes wees.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf winkeleienaars in Pietermaritzburg is bekommerd omdat al hoe meer winkels deur misdaadbendes aangeval word.
En tweedens word berig die Ouditeur-generaal het aangedui dat daar ‘n verbetering in Msunduzi se finansiële posisie is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig eerstens oor die uitwerking van inflasie op huishoudings. ‘n Bedrag van een-duisend-rand wat eens huishoudings gemaklik deur weke se basiese noodsaaklikhede gedra het, verdwyn nou na ’n enkele inkopietog.
Dan skryf die koerant die konsepwetsontwerp wat beleggings deur plaaslike en buitelandse sakelui reguleer, versmoor Namibië se ekonomie en dien as ’n afskrikmiddel.
En laastens is daar nuus oor Namibië se reënseisoen wat nou amptelik aangebreek het.