Nuus 17:00
BULLETIN 28 Januarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party sê die ad hoc-komitee gaan Brown Mogotsi dagvaar
# Die Departement van Vervoer in Limpopo skut 25 voertuie in ‘n terug skool toe-veiligheidsveldtog
# En, Amerika beveel ‘n wêreldwye entstofgroep om ‘n kwik-gebaseerde preserveermiddel uit te faseer of befondsing te verloor
Die MK-party se ad hoc komiteelid, David Skosana, sê die sakeman Brown Mogotsi sal gedagvaar word nadat hy geweier het om môre te getuig en geëis het die Parlement moet sy beskerming befonds. Skosana dring ook aan die privaat ondersoeker, Paul O’Sullivan, moet verskyn en die oppergesag van die reg respekteer. Hy het in gesprek met SABC News gewaarsku geen getuie sal toegelaat word om die komitee te ondermyn nie, aangesien tyd beperk is voor die komitee sy werksaamhede op 20 Februarie afsluit:
# Met vewysing na die ad hoc komitee sê die uitvoerende direkteur van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Lawson Naidoo, sê ook dit is van kritieke belang dat privaatspeurder Paul O’Sullivan sy rol en die aantygings teen hom moet verduidelik. Lawson beweer die komitee wat beweerde korrupsie en politieke inmenging in die regstelsel ondersoek, word deur politieke belange ondermyn. Naidoo waarsku die komitee tree op ‘n partydige wyse op en beskuldig sommige lede van politieke grootpratery , met verwysing na hoe vrae gevra word.
# Die Departement van Vervoer en Gemeenskapsveiligheid in Limpopo het veiliger terug skool toe-operasies in Thabazimbi en die Capricorn-distrik uitgevoer. Woordvoerder Matome Taueatsoala sê beamptes het 86 voertuie nagegaan, 13 dagvaardings uitgereik en 10 voertuie in Thabazimbi geskut, sowel as 15 in Mphahlele. Hy sê die departement beklemtoon leerderveiligheid en vra leerdervervoeroperateurs om aan die permitvereistes te voldoen:
# Die administrasie van Amerikaanse president Donald Trump het die entstofgroep Gavi beveel om entstowwe wat die preserveermiddel thimerosal bevat uit te faseer as ‘n voorwaarde vir befondsing. Reuters berig dit is nog ‘n poging om die wêreldwye gesondheidsbeleid te beïnvloed. Anti-entstofgroepe beweer die kwikgebaseerde preserveermiddel word verbind met outisme en ander neuro-ontwikkelingsafwykings, ondanks studies wat geen verwante veiligheidskwessies toon nie. Die Amerikaanse minister van Gesondheid, Robert F Kennedy Junior, wat lank reeds teen entstowwe gekant is, sê Gavi ignoreer veiligheidskwessies.
# Rugby: Die Stormers se Springbok-losvoorspeler, Ben-Jason Dixon, erken hulle nederlaag teen die Haaie in verlede naweek se Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd in Kaapstad was ‘n wekroep. Hulle was onoorwonne voor die kragmeting, maar het hul posisie boaan die punteleer verbeur toe hulle met 30-19 verloor het. Die Haaie het van die 14de na 11de plek opgeskuif. Dixon sê dit het ‘n groter doel gedien deur die onoorwonne etiket te verloor en te besef hulle moet verbeter. Die twee spanne pak mekaar weer komende naweek – dié keer in Durban.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-947-dolar. Die prys van goud is vyf-duisend-284-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….