Nuus 18:00
BULLETIN 28 Januarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Activists and Citizens Forum beskuldig Cyril Ramaphosa hy mors openbare fondse op kommissies sonder oplossings
# Die DA veroordeel Kgosientsho Ramokgopa se ontbondeling van Eskom as gevaarlike kullery
# En, FOSA verwelkom die Suid-Afrikaanse toerismebedryf se toenemende bydrae tot die ekonomie
# Die Activists and Citizens Forum sê president Cyril Ramaphosa moet ophou om belastingbetalers se geld te mors op kommissies van ondersoek wat geen oplossings bied nie. Die forum hernu sy oproep vir die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se onmiddellike afdanking. Dennis Bloem van die forum sê getuienis voor die Madlanga-kommissie is genoeg rede om Mchunu af te dank, en beweer hy het die wet oortree en ander opdrag gegee om vir die kommissie te lieg:
# Die DA sê die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, se plan om Eskom te ontbondel, laat Suid-Afrikaners in die steek. Die party sê deur die kragnetwerk onder Eskombeheer te hou, belemmer mededinging, jaag elektrisiteitspryse op en stel 132-miljard-rand in internasionale energiebefondsing in gevaar. Kevin Mileham van die DA sê landsburgers het ‘n onafhanklike en betroubare elektrisiteitstelsel nodig en doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om in te gryp:
# Die Forum for South Africa verwelkom minister Patricia de Lille se bevestiging dat toerisme ‘n belangrike drywer van ekonomiese groei, belegging en werkskepping in Suid-Afrika is. Die land se toerismebedryf het in 2025 ʼn rekord-hoogtepunt bereik met 10,48-miljoen internasionale toeriste, wat 17,6-persent meer as in 2024 is. Die bedryf onderhou tans 1,8-miljoen regstreekse en onregstreekse werksgeleenthede. FOSA-leier Tebogo Mashilompane sê dit bevestig toerisme se toenemende bydrae tot die ekonomie:
# Keir Starmer is op die eerste besoek deur ‘n Britse eerste minister aan China sedert 2018, met die doel om politieke en handelsbetrekkinge te versterk, te midde van ongemaklike verhoudings tussen Amerika en Westerse lande. Die besoek kan moontlik die verhouding tussen die twee lande verbeter. Die besoek is ’n geleentheid vir China om homself as ’n bestendige en betroubare vennoot te posisioneer te midde van wêreldwye wanorde. Europese en ander Westerse lande is besig om diplomatieke verhoudings met China te verbeter, in ‘n poging om hulself teen die onvoorspelbaarheid van die Amerikaanse president, Donald Trump te beskerm.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Iga Swiatek, sê die media behandel spelers soos diere in ‘n dieretuin as gevolg van agter-die-skerm-kameras in die Australiese Ope. Ander Grand Slam-toernooie se kamera-toegang is meer beperk. Swiatek se reaksie volg nadat die Amerikaner, Coco Gauff, op kamera vasgevang is toe sy haar raket in die spelersgebied verpletter het nadat sy gister in die kwarteindronde verloor het teen Elina Svitolina van Oekraïne. Die Amerikaner, Jessica Pegula, beskryf ook die voortdurende verfilming as ‘n inbreuk op privaatheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-33-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-261-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….