Nuus 11:00
BULLETIN 25 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Nog ‘n Amerikaner in Minneapolis deur federale immigrasie-beamptes doodgeskiet, groot betogings breek uit
# Minister Enock Godongwana sê die regering sal sy verbintenis nakom om skuld te bestendig
# En in tennis: Carlos Alcaraz is gemaklik deur na laaste agt op soek na sy eerste Australiese Ope-titel
# Immigrasie-beamptes het gister in ‘n tweede soortgelyke voorval hierdie maand, nog ‘n Amerikaanse burger in Minneapolis doodgeskiet. Dit het gelei tot hewige protesoptogte en veroordelings deur plaaslike leiers. Die Departement van Binnelandse Veiligheid sê dit was ‘n aanval op grenspatrollie-beamptes, wat uit selfverdediging geskiet het. Die dood van die 37-jarige Alex Pretti, ‘n intensiewe sorg-verpleegkundige, het honderde betogers na die buurt gelok. Hulle het met die gewapende en gemaskerde agente gebots, wat hulle met traangas en flitsgranate bestook het. Betogings het ook in New York, Washington DC en San Francisco uitgebreek.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die regering se verbintenis beklemtoon om skuld in die huidige fiskale jaar te bestendig. Godongwana het ‘n ministeriële afvaardiging na die 2026 Wêreld Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, gelei. Hy sê dis ‘n teken van sy verbintenis tot makro-ekonomiese bestendigheid en konsekwente beleidsuitvoering, wat nodig is om ‘n omgewing vir meer plaaslike en globale beleggings te skep. Die minister sê die onlangse verlaging van die inflasieteikens sal bydra tot die vermindering van koste regoor die ekonomie en die beleids- en pryssekerheid vir beleggers bied.
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê 2026 sal ‘n uitdagende jaar vir sy departement wees, aangesien die plaaslikeregeringsverkiesing vinnig nader kom. Hy sê die 2026/2027-verkiesing sal ‘n nuwe regeringstermyn inlui, wat moontlik deur koalisierade gekenmerk sal word. Die minister sê die verkiesing sal gehou na die aanvaarding van die hersiene Witskrif oor Plaaslike Regering, wat na verwagting vroeg vanjaar gefinaliseer sal word.
# Begrafnisdienste is in Sebokeng onderweg vir verskeie van die 14 leerders wat Maandag in ‘n leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark dood is. Thato Maetji, Ofentse Vinger en Bokamoso Mokhobo word vandag ter ruste gelê na ‘n gesamentlike gedenkdiens wat Vrydag ter ere van die slagoffers gehou is. Die woordvoerder van die Gautengse provinsiale regering, Elijah Mhlanga, sê leerdervervoeroperateurs word versoek om aan regulasies te voldoen ten einde soortgelyke tragedies te voorkom:
# Eskom het 267-duisend-en-17 slimmeters landwyd geïnstalleer, waarvan 88-duisend-674 op lasverminderingsinvoerders ontplooi is. Die woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hierdie installasies bemagtig kliënte met groter sigbaarheid en beheer oor hul elektrisiteitsverbruik, ondersteun akkurate fakturering en verbeter die algehele gebruikerservaring. Sy sê 90-persent van die slimmeters wat op lasverminderingsinvoerders geïnstalleer is, is in Gauteng, Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal, waar netwerkrisiko’s die hoogste is:
# Tennis: Die sesmalige Grand Slam-kampioen Carlos Alcaraz is op koers vir sy eerste Australiese Ope-titel nadat hy die Amerikaner Tommy Paul in skoon stelle uitgeskakel het. Hy is nou deur na die laaste agt en het nog nie ‘n stel verloor nie. Alcaraz slaan beter af, nadat hy in die verlede met presisie en konsekwentheid gesukkel het. Sy nuwe afslaan word vergelyk met die van Novak Djokovic wat vroeër gespot het dat hy ‘n deel van die Spanjaard se wengeld moet kry. Indien hy wen sal Alcaraz die jongste man ooit word om al vier Grand Slams in te palm.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….