Nuus 09:00
BULLETIN 25 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cyril Ramaphosa sê die regering privatiseer nie Suid-Afrika se staatsbeheerde entiteite nie
# Die DA vra minister De Lille moet dringend voor die Parlement verskyn oor die beweerde ineenstorting van SA Toerisme
# En, ‘n Russiese lugaanval onderbreek krag vir meer as ‘n miljoen Oekraïners
# ANC-president Cyril Ramaphosa sê die regering privatiseer nie staatsbeheerde entiteite nie, maar herstruktureer hulle eerder om doeltreffendheid, finansiële bestendigheid en prestasie te verbeter. Ramaphosa het die jaarlikse Lekgotla van die ANC se nasionale uitvoerende komitee in Boksburg, Ekurhuleni, toegespreek. Hy sê die regering het begin met die strukturele transformasie van daardie dele van die ekonomie wat ekonomiese aktiwiteit moontlik maak, insluitend elektrisiteit, logistiek, water en telekommunikasie:
# Die DA vra in ‘n brief aan die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee oor Toerisme, Ronalda Nalumango, dat die minister van Toerisme, Patricia de Lille, en die Suid-Afrikaanse Toerismeraad dringend voor die Parlement verskyn. Die party sê dis om rekenskap te gee van wat hy noem, die voortgesette ineenstorting van bestuur by die entiteit. Haseena Ismail van die DA sê die voortgesette terughouding van TOMSA-heffings wat deur die privaatsektor verskuldig is, tot tyd en wyl bestuurs- en aanspreeklikheidsmislukkings aangespreek word, is ‘n duidelike aanduiding dat vertroue in SA Toerisme aansienlik versleg het:
# Rand Water is bewus van ‘n WhatsApp-klankgreep op sosiale media wat beweer die Vaaldam is vergiftig en kraanwater moet gekook word voor dit gedrink kan word. Woordvoerder Makenosi Maroon sê Rand Water verwerp hierdie bewerings onomwonde as vals en misleidend. Sy sê Rand Water onttrek rou water uit die Vaaldam, wat deur ‘n deeglike behandelingsproses gaan voor dit aan verbruikers verskaf word:
# Die Wes-Kaapse polisie het die skietvoorval wat gister die lewens van drie jongmense in Samora Machel, in Kaapstad, geëis het, sterk veroordeel. Polisiewoordvoerder Andrè Traut sê die slagoffers het in ‘n motor gesit toe onbekende verdagtes op hulle losgebrand en toe van die toneel gevlug het. Hy sê drie slagoffers tussen die ouderdomme van 16 en 21 is op die toneel dood verklaar, terwyl ‘n vierde beseer en hospitaal toe geneem is:
# Rusland het gister nog ‘n grootskaalse aanval op Oekraïne se energiestelsel uitgevoer met ontploffings regdeur die nag in die hoofstad Kiëf. Nagenoeg 1,2-miljoen eiendomme landwyd is sonder krag gelaat te midde van wintertemperature onder vriespunt. Meer as drieduisend geboue was gisteraand steeds sonder verhitting met temperature rondom -10 grade Celsius. Die Russiese aanvalle is uitgevoer terwyl trilaterale VSA-bemiddelde gesprekke tussen Rusland en Oekraïne vir ‘n tweede dag in die Verenigde Arabiese Emirate voortgeduur het. Die onderhandelinge is later verdaag het sonder enige teken van ‘n ooreenkoms.
# En ten slotte, Gholf: Haydn Porteous hoop op sy eerste oorwinning van die nuwe jaar en begin vandag sy laaste rondte van die Cell C-Uitdaagtoernooi ter ere van Gary Player by die Killarney Buiteklub met ‘n voorsprong van drie houe. Porteous, loop sedert die eerste ronde voor en is nou op 14 onder baansyfer na gister se derde rondte van 68. Hy word gevolg deur Kieron van Wyk en Benjamin Follett-Smith van Zimbabwe op 11 onder baansyfer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….