Nuus 13:00
BULLETIN 22 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die bestuurder in die leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark staan nou tereg op aanklag van moord
# Rugby: Agt stadions is gereed vir 2027 se Wêreldbeker-toernooi in Australië
# En die rand bereik sy beste vlak teen die dollar in drie jaar
# Die bestuurder in Maandag se noodlottige leerdervervoerongeluk in Vanderbijlpark, Gauteng, staan nou tereg op 14 aanklagte van moord. Die 22-jarige Ayanda Dludla het vanoggend die eerste keer in die plaaslike Landdroshof verskyn en het sy borgtog-aansoek laat vaar. Die saak is tot 5 Maart uitgestel. Twaalf leerders is op die toneel dood toe die minibustaxi teen ‘n vragmotor gebots het, en twee leerders is vandag in die hospitaal dood. Dludla staan ook tereg op drie aanklagte van poging tot moord, en een van bestuur sonder ‘n geldige openbare bestuurspermit.
Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, sê intussen nog regulasies is nodig vir openbare en privaat leerdervervoer-operateurs. Sy het vanoggend leerdervervoer in Lenasia, Gauteng, inspekteer. Creecy sê wetstoepassers in die Lenasia-gebied het 60 voertuie wat leerders vervoer, geskut omdat reëls nie nagekom is nie:
# Die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit sê die brand in die berg bo Franschhoek woed steeds. Die brand het Saterdag uitgebreek en woed sedertdien deur groot dele van die Franschhoek-vallei. Die munisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê die brand het gistermiddag laat op talle plekke opgevlam en veroorsaak dat brandlyne vinnig teen die berghange op beweeg:
# Rugby: Agt stadions gaan volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Australië aanbied. Die Olimpiese Stadion in Sydney sal die middelpunt van die toernooi wees. Die stadion, met 80-duisend sitplekke, sal die eindstryd op 13 November aanbied, sowel as albei halfeindstryde, die uitspeelstryd om derde plek, twee kwarteindstryde en twee groepswedstryde. Die sokkerstadion in Sydney sal ook ‘n sleutelrol speel, met drie groepswedstryde en twee wedstryde in die ronde van 16. Die toernooi skop op 1 Oktober in Perth af.
# En geldsake: Die rand het sy beste vlak teeen die Amerikaanse dollar in drie jaar bereik. ‘n Rekord-hoë goudprys, aangevuur deur verhoogde geo-politieke risiko’s, het die rand ook ondersteun en Suid-Afrikaanse bates ‘n hupstoot gegee. ‘n Senior ekonoom van MUFG in Londen sê die sterk vertoning word ook aangehelp deur verbeterde risiko-sentiment. Ekonomiese data toon intussen dat Suid-Afrika se inflasiekoers steeds onder beheer is, wat die Reserwebank ruimte gee om rentekoerse te sny.
Die rand verhandel tans teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-920-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-830-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 64-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….